R2 miljoen. Dit is die teiken waarna die droogtehulpfonds mik wat deur die NG Kerk in Wes-en-Suid-Kaapland op die been gebring is. Die Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland het die fonds begin met ’n skenking van R200 000 en teen verlede week het dit al ’n hele ent oor die R300 000 getrek.
Intussen is daar uit die Algemene Sinodale kantoor begin om dié inisiatief te steun en dit landwyd uit te brei. Dr Gustav Claassen sê daar word met die verskillende sinodale strukture gepraat oor maniere om die nood aan te pak, maar ook met ander vennote soos Agri SA en TLU-SA.
Voorlopige opnames het getoon die grootste nood weens die droogte lê in Noordwes, gevolg deur die Vrystaat, Noord-Kaap, Noord-Natal, die Oos-Kaapse binneland en die Kaapse Weskus.
Claassen sê in ’n skrywe aan die kerk dat die NG Kerk deur sy gemeentes werk. Gemeentes moet in staat gestel word om hulp aan hulle gemeenskappe te verleen. Een van die groot behoeftes waarmee die kerk kan help, is traumaberading.
Daarby is voedsel, voer en enige ander vorm van hulp ook belangrik. Claassen beklemtoon ook die waarde van samewerking met ander kerke en organisasies.