Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Alhoewel die eerste maand van die nuwe jaar reeds verby is, is mense oor die algemeen steeds oorwegend toekomsgerig. Ons dink steeds aan 2016 as die jaar wat voorlê. In ’n sekere sin kan ons ook nie anders nie, want Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners is oorwegend van Westerse (Europese) afkoms en as sodanig rig ons ons eerder na die toekoms as die verlede.
Studies wys byna sonder uitsondering daarop dat hoewel Westerlinge meer bewus word van die belangrikheid daarvan om in die hede, in die hier en nou te lewe, is ons steeds meer toekomsgerig. Die toekoms bly ons oriënteringspunt en beslis nie die verlede nie.
Die mense van die Bybel se tyd het die klem op “vandag” laat val. Vandag is ’n gawe uit God se hand en daarom moet hierdie dag aangegryp word (Jos 24:15). En die antwoord op die vraag na hoe ek vandag behoort te lewe, was vir hulle in die verlede opgesluit (bv Deut 10:8; 11:2). Die Bybelse mense het hulle ten opsigte van vandag aan die verlede georiënteer, met die vertroue dat God soos in die verlede, ook vir môre sal sorg.
Die profete van die Here het sy woord vir “vandag”, vir die hier en nou van hulle tydgenote verkondig. Die profete was nie “toekomsvoorspellers” nie. Hulle was nie in die toekoms geïnteresseerd nie, maar in “vandag”.
Wanneer hulle oor die toekoms praat, is dit altyd op grond van hoe God in die verlede was en wat Hy in die verlede gedoen het. Hierdie oriëntering aan die verlede het die mense van destyds moed gegee vir môre, vir die toekoms, want hulle is geleer “God is getrou”, “God is gister, vandag en môre” dieselfde.
Sy trou sien ons in die verlede, daarom kan ons vandag aangryp, met die vertroue dat God ook môre is en bly wie Hy sê Hy is en dat Hy doen wat die verlede ons leer Hy doen.
Aan die begin van die jaar word ons genooi om vir vandag te lewe, deur ons te rig aan die hand van God se Woord uit die verlede, met die wete dat ons Hom met ons toekoms kan vertrou.
▶ Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.
