Van 1 tot 3 April, die eerste naweek ná Paasnaweek, is dit weer tyd vir #imagine, die fees wat tieners jaarliks inspireer om met die evangelie terug te gaan na hulle gemeenskappe en daar ’n verskil te gaan maak.
Ds Fouché de Wet van die Stellastraatgemeente in Pretoria sê soos verlede jaar sal daar weer drie feeste wees.
Die Gautengse fees word by die Malonjeni-kampterrein naby Heidelberg aangebied. Daar word tieners verwag uit Limpopo, Mpumalanga, Gauteng, Noordwes, die Noord-Kaap, Vrystaat en KwaZulu-Natal.
Die Oos-Kaapse fees word weer gehou by Mentorskraal naby Jeffreysbaai en die Wes-Kaapse fees by Mega-Agri-Park by Bredasdorp.
Verlede jaar, sê De Wet, het sowat 8 000 tieners die drie feeste bygewoon. Hule hoop dat dit vanjaar 12 000 kan wees.
Inskrywingsgeld is R400 vir diegene wat inskryf voordat die skole sluit. Daarna word dit R450. Mense kan by www.itickets.co.za inskryf. Inskrywingsvorms word ook deur skole en kerke versprei.
Tieners moet hulle eie tente bring en daar word vir gemeentes gevra om een jeugleier saam te stuur vir elke 10 tieners wat kom.
De Wet sê hulle het ook borge nodig om vir kinders te betaal wat dit nie self kan bekostig nie. Mense wat dit wil doen, kan ook ’n bydrae deur itickets maak.
Naas die drie saamtrekke in April word daar ook geleenthede in Julie beplan waar tieners missionale blootstelling en opleiding kan kry.
