Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr Marius Nel (middel) in gesprek met dr Stephan Joubert (links) en prof Fanie Snyman, dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Vrystaatse Universiteit. Foto: Gerhard Botha

‘Jesus wil mense se lewensfokus verskuif’

Tydens sy lewe op aarde het Jesus vir baie mense aanstoot  gegee. Predikante hoef nie te probeer om Jesus aanvaarbaar (“likeable”) vir mense te maak nie. Jesus wil mense se lewensfokus verskuif.

So het dr Marius Nel, Nuwe-Testamentikus van Stellenbosch, op die Teologiese Dag van die Universiteit van die Vrystaat se fakulteit teologie gesê. Nel en dr Stephan Joubert, buitengewone professor aan die UV, was die sprekers oor die tema: “Wie is Jesus?”

Nel het gesê Fillipense 2:6-11 wat vertel van Jesus se  leegmaak van Homself (“kenosis”), kan verskillend vertaal word. Die vertaalmoontlikheid “omdat Hy in die gestalte van God was, het Hy Homself ontledig” bied ’n uitsig op die hart van die liefdevolle, lydende God.

Jesus wou die status wat Hy het juis nie tot sy eie voordeel nie, maar tot voordeel van ander gebruik.

Dit vra van leraars ’n “kenotiese bediening”. Wat is die status of mag wat ek nie tot my eie voordeel nie, maar tot ander se voordeel sal gebruik?  Eerder as om verskoning te probeer soek vir dit wat ek het, of nie het nie, moet die gelowige vra hoe hy of sy juis dít tot voordeel van ander kan gebruik.

“As ek as gelowige werklik ’n verskil in hierdie wêreld wil maak, moet ek nie vasklou aan my voorregte of selfs my pyn ten koste van ander nie.  Ek moet dit tot voordeel van ander gebruik dat daar iets goeds uit kan kom”, het Nel gesê.

Joubert het teen die “stereotipiese Jesus” gewaarsku. Die wyse waarop Jesus Homself bekend gestel het was a-tipies van hoe die gode in die antieke tyd dit sou doen.  In die verhale oor die antieke gode kon mense gewoonlik agterkom as daar ’n god tussen hulle beweeg het.  Hulle het uitgestaan tussen gewone mense.  Jesus het egter byna onherkenbaar tussen die mense  beweeg.

Die Markus-evangelie beeld dikwels die emosies van Jesus uit. In sommige gevalle lei Jesus se diepe besorgdheid daartoe dat Hy die mense leer (Mark 6:34) en ander kere dat Hy die mense kos gee (Mark 8:2) of genees (Mark 1:41).

Tydens sy lewe op aarde was Jesus ’n lewende voorbeeld van God se empatie met mense. Leraars moet lidmate help om Jesus nuut te verstaan, om opnuut Jesus se hart vir mense raak te sien.

“Soos wat ons lewe meer gejaagd raak, sal etiek – ’n mooi manier van optree teenoor ander – al meer ’n luukse word,” het Joubert gesê.  Gelowiges moet egter God se liefde vir hierdie wêreld in hulle alledaag­se lewe sigbaar maak.

Die vraag, “Wie is Jesus”, word nie goed genoeg deur Jesus-prente in Kinderbybels beantwoord nie.  Deur Jesus se gedrag in die konteks van sy tyd te lees, word die beste antwoord gekry op die vraag wie Jesus regtig is.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top