Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Felicia Lategan, Dirk “Waterman” Wessels en Callie “Grasman” van Niekerk verheug hulle oor die hoeveelheid gras wat reeds versamel is. Foto: Marileen Steyn

Moreletapark leef mense raak deur gras en water

Daar is ’n atmosfeer van opgewondenheid wanneer Callie van Niekerk, Dirk Wessels en Felicia Lategan, personeel by die NG gemeente Moreletapark, van die gemeente se water- en grasprojek vertel.

In reaksie op die ernstige droogte in die land, het Moreletapark hande gevat met die Water Shortage South Africa en Hoop Gras Projek inisiatiewe en as versamelpunt vir gebottelde water en varsgesnyde gras begin dien.

Sowat 23 000 liter water is alreeds vanaf die gemeente na skole en ouetehuise versprei. Daarby het hulle al sowat 20 ton nat gras ingesamel wat met die hulp van die Hoop Gras Projek en Agri Suid-Afrika in voer vir vee verwerk sal word.

Lategan, kommunikasiebestuurder by die gemeente, is oorweldig deur die positiewe reaksie en deelname van mense van alle agtergronde.

“Die samehorigheid en gemeenskap is so aandoenlik. As jy kyk watter mense water en gras bring, sien jy mense van verskillende rasse, tale, kerke en selfs groot besighede. Dit is asof almal in hierdie tyd van nood saamstaan.”

Die water- en grasprojekte gaan egter oor meer as net ’n menslike reaksie op die droogte. Vir Van Niekerk, instandhoudingsbestuurder en sogenaamde “Grasman”, gaan dit ten diepste om verantwoording te doen vir die skepping soos van die mens gevra is.

“God het aan ons die opdrag gegee om te sorg vir beide mens en diere en dit is wat die water- en grasprojek doen.”

Van Niekerk glo ook dat God hierdie projekte spesifiek oor Moreletapark gemeente se pad gestuur het om dit met die fasiliteite, personeel en hulpbronne wat hulle tot hul beskikking het, te hanteer.

Stoorbestuurder en “Waterman” Wessels sluit by hom aan: “As jy sê dat jy ’n Christen is en in Jesus Christus glo, moet jy sy liefde prakties wys en deur hierdie projekte doen ons presies dit.”

Lategan beleef ook die projek as ’n praktiese uitlewing van hul geloof en visie. “Ons gemeente het hierdie jaar ons visie opgesom in die woorde: ‘Kom ons leef mense raak’. Dit voel vir my asof ons met hierdie projekte dit werklik kan doen.”

Van Niekerk maan egter dat Suid-Afrikaners nie te gerus moet raak met die onlangse reën wat geval het nie, maar dat die droogte se volle impak nog gevoel gaan word. Om hierdie rede vra hy vir mense se volgehoue ondersteuning van die skepping wat as ons verantwoordelikheid aan ons geskenk is.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top