GOD VAN DIE WOESTYN: ’n RUIMTE VAN ONTMOETING, VERRASSING EN HOOP
Deur Lisel Joubert
Uitgegee deur Bybelkor, 2015
Resensie deur Pieter van Niekerk
Lisel Joubert, verlede jaar se wenner van die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir haar debuutwerk Ontmoeting met heiliges, kyk in haar jongste boek nuut na die verhaal van Hagar. Hiermee wys Bybelkor weer dat hulle goeie, bekostigbare geestelike literatuur aan gelowiges beskikbaar stel.
God van die woestyn is volgens die outeur vir vroue geskryf. Ek dink nie dis noodwendig goed om ’n skeiding tussen publikasies vir mans en vroue te maak nie. Dit is so dat met die Bybel se dominante patriargale oorsprong en karakter, lesers maklik die vele vroue in die Bybel se verhale van geloof, hoop en liefde kan miskyk. Lisel Joubert se perspektiewe en nadenke oor die vrou Hagar is noodsaaklike, inspirerende en verrykende leesstof vir gelowige vroue én mans. Hulle is immers geloofsvennote.
Lisel het ’n diep en ryk studie van Hagar gemaak – die leser hoef net na haar bronnelys te kyk. Die boek het elf afdelings, sommige handel direk oor Hagar, ander strek wyer met veelseggende opskrifte soos “Pyn en hartseer vra om gehoor en gevoel te word” en “Vryheid vra om gekies te word”. Meeste gedeeltes het vrae om oor na te dink – ideaal vir geloofsverryking en Bybelstudie. Die deurlopende tema van die boek is die term “woestyn”. Daar is ses afsonderlike gekursiveerde gedeeltes oor verskillende assosiasies met die woestyn as tema.
Die struktuur en styl van die boek en die baie aanhalings kan vir sommige lesers ’n bietjie aan die akademiese kant wees. Die outeur is ook nie konsekwent met die gebruik van Sara/Sarai en Abraham/Abram soos sy vroeg in die boek (bl 10) verduidelik het nie. Gelukkig is dit net tegnies van aard. Ek vind die gedigte in die boek besonder spesiaal.
Hierdie boek help jou om nuut na die verhaal van Hagar te kyk en om met jou seer, kwelvrae en foute die God van die woestyn te ontmoet.
▶ Dr Pieter van Niekerk is ’n genoot van die Teologiese Fakulteit, Universiteit Stellenbosch.