Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Sonja Cilliers (middel agter) en die hoof skoolsielkundige van die area, Rose Kohler (regs), sit plat op die vloer by twee dogtertjies. In die middel sit “Lucia”. Links sit ’n maatjie, wat nie ’n probleem het nie, maar wat saamkom sodat “Lucia” nie alleen moet voel nie. Foto: Annalise Wiid

Die TREvangelie wat vry maak

Trauma hoef nie ’n lewensvonnis te wees nie. Sonja Cilliers van Sonstraal Gemeente in Durbanville, help getraumatiseerde kinders deur terapeutiese oefeninge. Dié oefeninge word ’n draer van die evangelie: Die kinders se boeie raak los, hulle duisternis lig.

Dit was soos om deur ’n sleutelgat te mag loer. Die kamer is donker, maar jy sien iets wonderlik gebeur:  Sonja kom met ’n vlinderfyn dogtertjie aan die hand die skoolsaal in. Die kindjie huil. Onophoudelik en geluidloos.

Sy is baie klein vir haar ouderdom. Stokmannetjielyfie. Strepiedun beentjies. Sy kyk glad nie op nie. Net grond toe. Toe. Kokon-tóé. En bewe-bang. Vir alles. Sy klou aan Sonja vas.

Kom ons noem haar Lucia. Haar ma wou haar nie hê nie. Het haar in die pad gelos – gehoop iemand ry dalk oor haar of vat haar. Die ma is intussen dood. Die ouma ook. Lucia woon nou by ander mense. Ander huis. Ander skool. Alles, almal, vreesaanjaend vreemd. Hoe help ’n mens hierdie tenger kindjie om te lewe?

Lucia is nie die enigste nie. Daar is ook ’n Graad R wie se lewensvreugde deur ’n uncle gesteel is. ’n Dogter wat haar ma se boyfriend moet deel. En kinders wie se 12-jarige boetie deur gangsters doodgeskiet is. Want hy wou nie ’n bendelid word nie. 17 koelbloedige skote. En die gangs dreig: Julle is volgende. Verkragting. Roof. Gesinsgeweld. Te verstane dat al hierdie kinders ly aan kroniese post-traumatiese stres.

Sonja gebruik hoofsaaklik Trauma & Tension Release Exercises (TRE) om hulle te help om vry te kom van die skrik wat hul lewe oorneem.

TRE is ’n reeks eenvoudige, pynlose oefeninge. Spesifiek ontwerp om die diep, kroniese spiersametrekkings (’n instinktiewe liggaamsreaksie) wat deur ernstige skok of trauma veroorsaak is, vry te laat. Dit help die kinders om weer sterker, rustiger te word. 

Sonja werk in verskeie laerskole. Sy sien elke kind een keer per week vir ’n uur, of so lank nodig. Soms alleen, soms in ’n groep.

Hulle kry ook iets te ete en iets om huis toe te neem, want wie kan emosies hanteer en verwerk as honger byt? 

Sy sterk ook die onderwysers se hande. Hulle kry gereeld terugvoer oor die kinders se vordering. So ook die ouers, skoolsielkundige, en die kerk.

Sonja se bediening, genoem die Euresonprojek, word gesamentlik omarm deur die NG gemeente Sonstraal en die Lutherse gemeente, Eureka, in Elsiesrivier. Dit word gefinansier deur borgskappe wat deur Sonstraal geadministreer word.

Hoe ’n kind reageer op TRE, bepaal die hoeveelheid sessies wat nodig is. Nege weke is gewoonlik die norm.

Op die Kaapse vlakte, neffens die lughawe, waar bendes sommer oor die skool se speelgrond na mekaar skiet, maak Sonja Cilliers ’n klein, maar deurslaggewende, bydrae tot ’n gesonder samelewing. Een wat flenter kinders weer begin leer om met hoop te leef.

Ná haar TRE-sessie, stap klein Lucia alleen uit op die skoolgrond. Sy het Sonja se hand gelos. Haar treetjies is nou effens sterker. Sy vlieg nog nie, maar sy huil nie meer nie. Die skoenlapper in haar hart het vanoggend, liggies – dalk vir die eerste keer – in sy ysterkokon begin roer …

▶ Indien jy ’n kind se TRE-sessies wil borg, kontak Sonja Cilliers by sonja@apcilliers.co.za of 083 456 6105.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top