Tutela, die maatskaplike dienste in die Sinode Hoëveld, het in Februarie by twee geleenthede die voorreg gehad om agtertoe en vorentoe te kyk.
Die Tutela Terapeutiese Eenheid was op 1 Februarie 2016 tien jaar oud. Die eenheid lewer ’n verskeidenheid dienste. Die evaluering van ouers en hul ouerskapsvaardighede is die besondere fokus van hierdie dienste. Selfs die gesinsadvokaat en gesinshowe verwys dikwels disfunksionele gesinne vir evaluering en bystand na die eenheid.
In die tien jaar het die eenheid sowat 2 000 gesinne gehelp. Hierdie terapeutiese ondersteuningsdienste is volgens dr Botha van Aarde, hoof- uitvoerende beampte van Tutela, “ ’n besondere manier waarop die kerk van Christus haar hand op ’n hoogs professionele manier op die skouer van gesinne plaas”.
Tutela het ook sy jaarlikse wydingsgeleentheid gehad waar personeel en beheerraadslede van die Tutela-familie hulleself en die maatskaplike dienslewering van die kerk aan die Here toewy. By dié geleentheid het dr Hugo van der Linde, moderator van Hoëveld-sinode, na aanleiding van Filippense 2 verduidelik dat toegewyde barmhartigheidsbediening of missionale diakonaat in terme van vier Engelse “P”-woorde beskryf kan word.
- Presence verwys na Jesus wat mens geword het en onder ons kom woon het. So moet die kerk ’n teenwoordigheid by die mense in nood kry en nie net ontwikkelingsdienste van “buite af” lewer nie.
- Proximity verwys na daardie dienshouding waar jy in die skoene van die ander een gaan staan.
- Powerlessness vra dat ons, soos Jesus, ons mag moet aflê in ons diens aan ander.
- Proclamation beteken dat “brood”-bediening altyd saam met “Woord”-bediening gaan. Dit bly maar twee kante van dieselfde munt.
Dit is wat missionale diakonaat beteken en wat dit van “missionale diakens” vra. En, sê Van Aarde, dit is hoe Tutela graag vorentoe in 2016, en daarna, maatskaplike dienste aan ’n wêreld in nood wil lewer.
