Uit die hope rommel groei daar hoop

Hoe op dees aarde het julle op hierdie plek beland?”

Die drie vrouens van Volition kyk na mekaar. Deur die venster van die opslaangeboutjie in die middestad van Pretoria is berge rommel sigbaar: glas, karton, plastiek, blikkies en so meer. Vir ’n oomblik is daar stilte, dan borrel hulle storie uit.

“Nuwe omstandighede vra nuwe soort bedienings. Nie-regeringsorganisasie soos Pen ontvang minder hulp vanaf gemeentes. Daar is deesdae behoefte aan meer volhoubare, selfversorgende projekte,” sê ds Sharaine Steenberg (31).

“Ons wil wegbeweeg van bedienings wat hoofsaaklik op simptome of gevolge konsentreer,” voeg ds Elaine Dippenaar (28) by, “na dié wat groter verskil aan onderliggende oorsake maak.”

Hul Volition-projek is ’n besigheid wat op eie bene staan, maar wat sy visier op positiewe sosiale uitkomste eerder as finansiële wins stel, en ’n brug bou tussen sogenaamde “trolliemense”– manne en vroue wat rommel optel en in asblikke rondvis – en herwinningsmaatskappye.

Eerlike pryse word betaal wat “hierdie kosbare en hardwerkende, maar miskende lede van ons samelewing” op talle maniere bemagtig. Hier kry mense géén hand-outs nie; alles geskied op streng besigheidsterme. Hulle word egter na die Pen-gemeenskapsentrum reg langsaan verwys, waar hulle kan stort, raad vra, reël vir mediese dienste of geestelike leiding ontvang.

Deur bestaande staatsinisiatiewe (soos BBBEE en punte vir besigheidsontwikkeling) met wysheid te benut, word alle partye bevoordeel: aan maatskappye bied dit verantwoordelike kanale vir betrokkenheid by sosiale bemagtiging; aan amateursakelui veilige deure na die formele sektor – en aan dienswillige lidmate en gemeentes geleenthede om ons oorvloedige gawes tot seën van ander (en ons eie verdieping) aan te wend.

Sielkundige, Candice Dorfling (30), is deel van die span. Sy vertel van die “Tekanô-model”, wat eintlik die hart van die projek is, waardeur daar geleidelik toegang tot mentorskap, terapeutiese en pastorale begeleiding, bemeestering van administratiewe prosesse, skep van bankrekenings, opleiding, behuising, en baie meer, aan entrepreneurs gebied word.

’n Belangrike faset van Volition se visie, voeg sy by, is ons verantwoordelikheid teenoor die hele aarde, en dus ook groener gemeenskappe: ’n skoner en veiliger omgewing, minder vermorsing en meer herwinning, maar ook die skep van stedelike tuine, waar mense kan asemhaal én voedsel verbou.

“Volition kyk na die toekoms,” sê ds Sharaine, moeder van drie. Daar is belangriker prioriteite as om onvolhoubare strukture in stand te hou en baie vars en opwindende maniere om saam aan ’n gesonder samelewing te help bou.

Hulle eie bevoorregte agtergrond en akademiese opleiding sien hulle as bates. “Om brûe te kan bou tussen desperate mense en hulpbronryke gemeentes en besighede, is dit nodig om albei wêrelde te verstaan. Dit is byvoorbeeld belangrik om te weet hoe om met geld te werk en die groter verband in ag te neem, maar ons moes ook leer om met nederigheid na ander mense te luister, om seker te maak wat die gemeenskap se werklike behoeftes is en nie bloot ons eie idees op hulle uit te giet nie.”

“Die Here het vir ons ’n hart vir die stad gegee, ’n ervare organisasie soos Pen het ons gelei om naby aan die siel van die gemeenskap te kom, daarna het die Here baie deure begin oopmaak …”

▶ Volition se span gesels graag met geesgenote. Besoek www.re-volition.co.za of kontak hulle persoonlik by sharaine@re-volition.co.za of elaine@re-volition.co.za

Word 'n vriend van Kerkbode