CHRISTIAN ZIONISM EXAMINED: A REVIEW OF IDEAS ON ISRAEL, THE CHURCH AND THE KINGDOM
Deur Steven Paas
Uitgegee deur VTR Publications, Nürnberg, 2012
Resensie deur Danie O’Kennedy
Sommige Christene is baie geïnteresseerd in die Jode en die land Israel. Hulle oorbeklemtoon soms die rol wat Israel in die verlossingsgeskiedenis speel en onderbeklemtoon die rol van Christus. Steven Paas, Nederlandse teoloog en joernalis, ondersoek in hierdie boek die “Christelike Sionisme” en lei Christene tot ’n meer gebalanseerde siening van Israel en die Sionisme.
Volgens Paas is die Christelike Sionisme net so oud soos die Christelike geloof en berus hulle standpunt op veral drie voorveronderstellings: (1) Die huidige Israel behou sy identiteit en posisie in die verlossingsgeskiedenis en word onderskei van die kerk. (2) Daar word geglo dat Israel herstel sal word as ’n vervulling van die Bybelse profesieë. (3) Israel sal ’n massale bekering beleef en ’n belangrike rol in die koninkryk van Christus speel.
Dit is interessant om te let op Paas se waarneming dat Christelike Sionisme nie soseer in Afrika, Asië en selfs Suid-Amerika posgevat het nie. Een van die redes wat hy hiervoor aanvoer is dat kerke in hierdie kontinente nie deur skuldgevoelens weens die vervolging van die Jode belas word nie.
Steven Paas sluit sy boek af met vier waardevolle aanbevelings in sy gesprek met die Christelike Sionisme:
(1) Verander julle letterlike verstaan van die Bybel en moenie die sentraliteit van Christus ondermyn nie. (2) Laat staan die Sionistiese Millinianisme. Christen-Sioniste moet bereid wees om hulle hoop te herlei van ’n fisiese Sion in die staat Israel na ’n hemelse Sion. Die vrede van die land Israel kan alleen in Christus gevind word. (3) Christen-Sioniste moet hulle houding teenoor die Jode en die land Israel normaliseer. Hulle maak van die Jode en Israel abnormale entiteite. Daar is ook ’n onrealistiese verwagting van ’n nasionale bekering van Israel. (4) Die Christelike Sionisme moet hulle teologie hervorm sodat hulle werklik missiologies kan wees. Die Jode en die staat Israel het nie ’n ereposisie in God se koninkryk nie. Daar is nie ’n Bybelse regverdiging vir ’n “twee verbondsteologie” nie. Dié siening verlam die uitreik na die Jode.
Hierdie boek is ’n uiters waardevolle bron oor die Christelike Sionisme en is ook vir ons relevant as ’n mens in gedagte hou dat lidmate uit die NG Kerk bedank het om by die huidige “Hebrew Roots Movement” aan te sluit.
▶ Dr Danie O’Kennedy is leraar van Helderberg-gemeente en deeltydse dosent in Ou Testament aan die Teologiese Fakulteit, Universiteit Stellenbosch.