Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Mnr Neeshan Bolton (met die donkerblou hemp) van die Anti-Racism Network of South Africa gesels met die Algemene Sinodale Moderamen oor rassisme. Ook op die foto is van links ds Dirkie van der Spuy, mnr Sean Moodley van ARNSA, ds Nelis Janse van Rensburg en dr Gustav Claassen.

Arnsa besorg oor anti-wit sentiment

Kommer oor ‘n groeiende anti-wit-sentiment het die Anti-Rassisme Netwerk van Suid-Afrika (ARNSA) ‘n pleidooi laat rig vir wit mense se betrokkenheid by die stryd teen rassisme.

Mnr Neeshan Bolton van ARNSA het Dinsdagoggend, 15 Maart, aan die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) van die NG Kerk gesê hulle wil daarom graag goeie wit verteenwoordiging hê by die gedenkgeleentheid van die Sharpeville-skietery op Maandag 21 Maart. Dit is menseregtedag, maar ook die laaste dag van die week teen rassisme.

Bolton het gesê as witmense sigbaar is by dié geleentheid, sal dit bydra om die persepsie te vernietig “dat witmense nie omgee nie”.

Hy het ook gevra dat die kerke hulle op Palmsondag teen rassisme moet uitspreek.

Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris, het met die moderators van die Noordelike sinodes oorleg gepleeg oor die moontlikheid dat ‘n groep mense uit die NG Kerk die gedenkgeleentheid in Sharpeville sal bywoon.

ARNSA is ‘n inisiatief wat deur die Ahmed Kathrada-stigting en die Nelson Mandela stigting begin is. Volgens Bolton wil hulle vier dinge doen tydens die week teen rassisme.

Eerstens wil hulle meer leer oor rassisme. ‘n Peiling het getoon dat 60% tot 65% van Suid-Afrikaners daagliks rassisme beleef.

Tweedens wil hulle oor rassisme praat. Waar studente van verskillende rasse met mekaar oor rassisme gepraat het, het daar groter begrip vir mekaar gekom.

Derdens wil hulle hulle teen rassisme uitspreek sodat die samelewing sy afkeur daarvan duidelik kan toon.

Vierdens wil hulle optree teen rassisme, onder meer deur bewustheid van die gelykheidshowe te verhoog.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top