Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Loop saam’ teen rassisme

In ‘n gemeenskap wat weens rassisme op ‘n mespunt is, is ‘n alternatiewe lewe van versoening en saam ‘n pad loop moontlik.

So het ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) Dinsdagoggend, 15 Maart, gesê op die vergadering van die ASM in Kempton Park.

LoopSaam

Die ASM het ‘n bespreking oor rassisme gehou na aanleiding van die brief oor rassisme wat Janse van Rensburg vroeër vanjaar uitgestuur het.

Die ASM het ook gehoor van ‘n nuwe stuk gereedskap wat gemeentes kan help om grense te oorbrug en vriendskappe oor byvoorbeeld kerkgrense en kleurgrense te bou.

Dié gereedskap heet Loop Saam en dit is ‘n Bybelkor-handleiding om suksesvolle oorgrensgroepe op die been te bring en te bedryf.

Dr Chris van Wyk, samesteller van die handleiding, het gesê kruiskulturele kontak kan werk mits daar aan sekere voorwaardes voldoen word. Dit moet byvoorbeeld die ondersteuning van die kerkrade geniet en die groepe moet gelyke status hê.

Die gedagte is dat ‘n groep van byvoorbeeld vyf lidmate van ‘n NG gemeente en vyf van ‘n gemeente van die Verenigende Gereformeerde Kerk saam op ‘n reis gaan.

Op dié reis is daar agt byeenkomste waartydens hulle byvoorbeeld saam Bybelstudie hou en mekaar leer ken. Hulle doen ook soms iets soos om saam in die openbaar piekniek te hou.

Daardeur bou hulle vriendskappe oor kultuurgrense. Sulke vriendskappe het die rimpeleffek dat selfs die deelnemers se ander vriende meer positief word oor ander kultuurgroepe.

Janse van Rensburg het gesê dit gaan oor versoendheid met ander gelowiges in die gemeenskap.

Versoening word nie bereik deur ‘n besluit in ‘n sinodesaal nie. Hier is ‘n stuk gereedskap wat uit die seisoen van Menswaardigheid kom wat gemeentes in praktyk kan help om dit te doen.

Dr Elize Morkel, voorsitter van die Seisoen van Menswaardigheid, sê die handleiding is reeds in Afrikaans beskikbaar en die Engels, Xhosa en Suid-Sotho is op pad.

Hulle wil in die derde kwartaal van 2016 in verskillende streke opleiding aanbied oor hoe om die handleiding te gebruik en die proses in gemeentes deur te voer.

Loop saam is beskikbaar by Bybel-Media.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top