Lidmate, gemeentes en sinodes het die afgelope maande byna R3 miljoen vir droogtehulp gegee, het die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) op sy vergadering in Kempton Park gehoor.
Volgens ds Leon Venter van Wes-Kaapland het 95 gemeentes meer as R1,1 miljoen bygedra tot die Droogtehulpfonds. Die sinode van Wes-Kaapland het R200 000 gegee en KwaZulu-Natal R30 000. Daarby het Wes-Transvaal ‘n halfmiljoen rand aan Agri-SA gegee wat gebruik word om voer vir boere aan te ry.
Individuele lidmate, meestal annoniem, het meer as ‘n miljoen rand bygedra.
Uit die Droogtehulpfonds is uiteenlopende gemeentes al gehelp. Dit wissel van Britstown en Merweville tot by Senekal, Vryheid, Greytown, Vryheid, Brandfort en die VGK gemeente Mnqobokozi.
Daar is ook gemeentes soos Helderberg, Riversdal-Wes en Raslouw wat direk hulp verleen het aan ander gemeentes.
Van die hulp uit die Droogtehulpfonds gaan vir veevoer, en ander vir boorgate. In Vryheid is daar byvoorbeeld ‘n boorgat nodig om die hospitaal van water te voorsien. Telkens is die gedagte om die breër gemeenskap te help.
Venter wys daarop dat hulle in vennootskap werk met landbou-organisasies. Die groot versoek uit daardie kringe is dat die kerk moet help met pastorale ondersteuning van boere wat swaar kry.
Gemeentes uit gemeenskappe waar daar geldelike hulp nodig is, kan by die Droogtehulpfonds daarom aansoek doen. Besonderhede is beskikbaar by ngdroogtehulp.co.za. Daar is ook ‘n facebookblad met die naam ngdroogtehulp. Elke sinode het ook ‘n sinodale skakelperson oor droogtehulp wat kan help met inligting.
