Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Ons is almal sendelinge’

“Missionale transformasie se doel is nie om gemeentes te transformeer om uitreikprojekte te hê nie. Dit is gemik op innerlike transformasie sodat lidmate besef ons is almal sendelinge.”

So het ds Freddie Schoeman, voorsitter van die Algemene Sinode se Taakspan vir Missionale Transformasie, aan die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) gesê. Die ASM het missionale transformasie as sy eerste prioriteit vir die NG Kerk geïdentifiseer.

Die ASM het tydens sy vergadering van 14 tot 16 Maart in Kempton Park heelwat tyd aan die saak bestee. Hulle het onder meer besin oor ‘n konsepdokument wat die taakspan opgestel het met ‘n teologiese basis vir die kerk se missionale transformasie.

Dié dokument gaan uit daarvan dat alles by die Drie-enige God begin en dat die kerk se wese en sy rol in die wêreld direk uit die Drie-enige God se aard en wese voortspruit.

So is gelowiges in Christus aan God verbonde en dit bepaal die identiteit waaruit hulle leef. Dit beteken ook dat volgelinge van Christus al meer soos Hy moet word en hulself moet prysgee soos Hy gedoen het.

Omdat gelowiges meegesleur word deur God se genade word hulle ook draers daarvan in die wêreld – sodat die wêreld al meer van die liefde, geregtigheid, vrede en vreugde van God se Koninkryk kan vertoon.

Gelowiges se verhoudings moet ook al meer word soos die onderlinge verhoudings tusse die drie Persone van die Drie-eenheid.

Uiteindelik moet gelowiges die evangelie beliggaam in wat hulle is en hoe hulle leef, sodat die wêreld dit kan sien.

Die ASM het verskeie insette gelewer sodat die dokument verder geslyp kan word. Die taakspan wil dit dan wyer in die kerk bekend stel sodat hulle so wyd as moontlik insette kan kry daaroor.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top