Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Gays moet selibaat bly, sê Namibië

Vir die sinode van die NG Kerk in Namibië “is dit op geen manier tans vir ons in ons interpretasie van die Bybel moontlik om selfdegeslag- seksuele dade te aanvaar en te regverdig nie”.

Die sinode sê in ‘n omvattende besluit dat hulle die integriteit aanvaar van gelowiges wat kan saamleef met die besluit wat die Algemene Sinode verlede jaar geneem het oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. Die meerderheid afgevaardigdes na die Namibiese sinode voel egter dat daardie besluit nie te rym is met hulle verstaan van die Skrif nie.

Luidens die besluit neem die sinode die Bybel en die liefde van Christus as vertrekpunt vir hulle nadenke oor die saak. Hulle aanvaar ook die goeie trou van gays se belydenis van hulle geloof in God Drie-enig.

Vir die sinode is ‘n seksuele oriëntasie na dieselfde geslag toe ʼn “onverstaanbare werklikheid”. Die Bybel praat nie oor hierdie oriëntasie nie, maar net oor die seksuele dade tussen mense van dieselfde geslag, in die meeste gevalle tussen mans.

Die sinode aanvaar ook dat mense met so ‘n natuurlike oriëntasie “nie bloot afwykende, immorele of sondige keuses gemaak het om op so ‘n manier mens te wees nie”. Daarby sê die sinode dat mense met so ‘n menslik-onverklaarbare oriëntasie respekvol behandel moet word.

Met dit gesê, verstaan die sinode die Bybel egter so dat dit nie ruimte laat vir verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag nie. Die Bybel veroordeel verskeie soorte seksuele optredes, maar die twee wat die skerpste veroordeel word, is prostitusie en seks met dieselfde geslag.

Teen dié agtergrond, sê Namibië, vra die Bybel ‘n selibate lewe van mense met ‘n selfdegeslag- seksuele oriëntasie.

Die sinode sê die Bybel is duidelik oor die goddelike gegewe van menslike seksualiteit. Dit is primêr deur God bedoel om die menslike geslag te laat voortplant binne die ruimte van gesinne gegrond op ‘n onverbreekbare verbintenis tussen ‘n man en vrou wat mekaar liefhet.

“Dit is ook die ruimte waarbinne die mens vreugde vind in die beoefening van sy/haar seksualiteit, omdat die mens daarmee, ten spyte van die gebrokenheid van die skepping, met die hulp van die Gees van Christus tog daarna streef om te voldoen aan die wil van God self. Die kerk het immers deur die eeue heen getuig dat die goddelik-bedoelde uitlewing van die mens se seksualiteit in ‘n verhouding van trou, die een hoedanigheid van die mens is wat hom / haar op die mees lewens-vervullende wyse in verhouding tot ‘n medemens bring.”

Dié oproep tot ‘n selibate lewe vir gays is nie bedoel om mense te na te kom, te veroordeel of te verontreg nie, sê die sinode. Dit is ‘n poging om Christus te gehoorsaam.

Dis sinode sê ook dat alle mense, ongeag hulle oriëntasie, ingesluit is in God se liefde. Hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk aanvaar. Lidmaatskap behels toegang tot die sakramente en die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top