Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Anna-Marie Jordaan van Thabazimbi en John Mochaesa vorm 'n #-teken met hulle vingers en bou 'n brug wat klowe oorspan. Die bou van brûe is 'n belangrike tema by vanjaar se #imagine-jeugfeeste. Foto: Neels Jackson

#imagine leer tieners om brûe te bou

‘n Wysvinger en middelvinger van een hand gaan lê dwars oor die ooreenstemmende twee vingers van ‘n vreemdeling se hand. Saam vorm hulle ‘n #-teken. So bou hulle ‘n brug wat, volgens die voorbeeld wat Jesus gestel het, grense oorsteek en klowe oorbrug.

Die toneeltjie het om oor en oor afgespeel by die die #imagine-jeugfeeste wat van 1 tot 3 April 2016 by Bredasdorp in die Wes-Kaap, Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en Heidelberg in Gauteng gehou is.

Die drie feeste volg dieselfde program en die bou van brûe is ‘n belangrike tema.

Ds Gielie Loubser van die Wes-Kaapse fees het vooraf gesê met die eerste feeste twee jaar gelede het hulle gepraat oor die beeld van Christus in tieners, dat hulle ‘n nuwe identiteit in Christus het.

Verlede jaar het hulle die verhaal gebruik van die verlamde man wat deur die dak na Jesus laat sak is. Toe was die boodskap aan tieners dat hulle bevry kan word deur dit wat hulle verlam, deur dit na Jesus te bring.

Daarna is daar besef dat daar ‘n gaping is tussen die feeste en die gemeenskappe waarin die tieners leef. Met vanjaar se fees wil hulle tieners help om daardie gaping te oorbrug sodat hulle ‘n verskil kan gaan maak in hulle gemeenskappe.

Daarvoor gebruik hulle vanjaar die #-teken wat al deel van die #imagine-identiteit geword het.

In die eerste sessie gebruik hulle die # soos ‘n lens waardeur ‘n mens kan kyk. ‘n Mens kan die # met jou vingers vorm en letterlik daardeur loer. Die boodskap is dat gelowiges op ‘n nuwe manier, soos Christus, na mense moet kyk.

In die tweede sessie word die #-teken ‘n beeld van ‘n brug waarmee ‘n mens klowe oorsteek. Daarvoor gebruik hulle die verhaal van die vrou by die put, ‘n Samaritaan na wie Jesus oor grense heen uitreik.

Derdens is die gedagte om die kruis in die #-teken te gebruik om vir tieners te leer dat hulle hulle kruis moet opneem om ‘n verskil in die gemeenskap te maak.

Dié boodskap is versterk deur video’s te vertoon van drie tieners wat hul gemaksones verlaat en verskillende grense oorsteek na onder meer gestremdes, dwelmgebruikers en armes wat op ‘n vullisstortingsterrein bly. Vir al drie dié tieners was dit lewensveranderende ervarings.

Duisende tieners het die drie feeste oor die naweek bygewoon. In Gauteng was daar sowat 3 200 feesgangers uit sewe provinsies. Party het so ver as van Kathu in die Noord-Kaap of die kus van KwaZulu-Natal gekom om die fees naby Heidelberg by te woon. In die Oos-Kaap is sowat 1200 tieners verwag en in die Wes-Kaap heelwat meer as 3 000.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top