KERKBODE betree ’n nuwe fase om die toegang tot kerknuus te vergemaklik. Op dié manier kan lidmate en leraars eerstehands uitvind wat in die kerkwêreld aan ’t gebeur is, en hoef hulle nie meer op sekulêre media daarvoor staat te maak nie.
Die gedrukte Kerkbode word aangevul deur die elektroniese e-Kerkbode wat kerknuus gratis by www.kerkbode.co.za beskikbaar stel. ’n Toep (“app”) om direkte toegang vanaf ’n selfoon tot die inhoud te gee, sal ook mettertyd beskikbaar gemaak word.
e-Kerkbode is soortgelyk aan die sinodebode tydens die Algemene Sinode van 2015 waar enigiemand die jongste kerknuus uit die NG Kerk kon lees. Mense word ook aangemoedig om berigte hiervandaan verder op sosiale media te versprei.
’n Mens kan ook gratis inteken deur ’n e-posadres te verskaf. Dan sal die jongste nuus op ’n gereelde basis direk na elke intekenaar se e-posbus gestuur word.
Die nuwe e-Kerkbode het die voordeel dat dit baie vinniger oor nuusgebeure kan berig as die gedrukte koerant. Voorbeelde hiervan is onlangse kerklike aksies om hulp in te samel en aan mense te versprei wat deur die droogte getref is, kerklike verklarings wat uitgereik word oor aktuele gebeure in die gemeenskap, of besluite van kerkvergaderings.
Die e-Kerkbode vestig ’n tweede nuuskanaal náás die gedrukte Kerkbode. Verder plaas dit die koerant aan die voorpunt van die digitale revolusie. Gedrukte koerante wêreldwyd kom vir hulle voortbestaan al meer onder druk. Mense se voorkeur vir nuusbronne skuif eenvoudig steeds meer van die gedrukte na elektroniese media toe. Dit gebeur ook met Kerkbode.
Kerkbode bestaan reeds sedert 1849, wat dit een van die oudste koerante in Afrikaans maak. Die nuwe stap verseker die voortbestaan van dié waardige nuusbron.
Van hierdie uitgawe af sal die gedrukte Kerkbode net 20 bladsye dik wees. Inhoud wat in die in die slag bly, is die Bybelraai wat mettertyd al minder inskrywings gelok het.
Die nuwe e-Kerkbode word ’n tweelingpublikasie van die gedrukte Kerkbode. Vir die afsienbare toekoms sal die twee nuuskanale náás mekaar bly bestaan.
Die direksie van Bybel-Media en die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) het albei die vestiging van die e-Kerkbode entoesiasties goedgekeur. By die ASM was daar ’n sterk gevoel dat goeie kommunikasie binne die kerk uiters belangrik is. Die voortbestaan van Kerkbode as nuuskanaal van die kerk sal daarom selfs ook uit Algemene Sinodale fondse verseker word wanneer dit nodig word.
▶ Danie Mouton (BM-voorsitter) en Pieter Fourie (Uitvoerende Hoof).
