Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Skolesaak: godsdienste word vriend van die hof

Die Suid-Afrikaanse Raad vir die Beskerming en Bevordering van Godsdiensregte en –vryhede (die SARGRV) is toegelaat as ‘n vriend van die hof in die saak oor toelaatbaarheid van godsdiens in openbare skole.

Die Raad sê in ‘n persverklaring dat hy op 12 Maart voor regter Mokgoathleng  in die Suid Gautengse Hoë Hof in Johannesburg aansoek gedoen het om as vriend van die hof geskrewe en mondelinge voorleggings te doen wanneer die saak aangehoor word.

Dié aansoek is nou toegestaan.

Die saak, waarin daar gevra word dat godsdiensbeoefening in die skole as ongrondwetlik verklaar word, is deur die Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie teen ses Afrikaanse skole gebring. Die datums waarop die saak aangehoor sal word, is nog nie bekend nie.

Die Suid-Afrikaanse Raad vir die Beskerming en Bevordering van Godsdiensregte en –vryhede is ‘n baie verteenwoordigende organisasie van uiteenlopende godsdiensgroepe in die land.

Die verskillende godsdienste het daar saamgewerk aan die Suid-Afrikaanse Handves van Godsdiensregte en -vryhede. Dit is ‘n dokument wat uiteensit wat die godsdienste meen die grondwetlike reg op godsdiensvryheid behels.

Prof Pieter Coertzen, kerkregkenner van Stellenbosch en vroeër ook aktuarius van die Algemene Sinode van die NG Kerk, het ‘n sleutelrol gespeel om dié groep byeen te bring en om die Handves vir Godsdiensregte en -vryheide op te stel. Hy is nou voorsitter van die Raad.

Volgens Coertzen het die Suid-Afrikaanse Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe die handves reeds as uitgangspunt vir hulle werk aanvaar. Dit is een van die instellings wat, soos die Openbare Berskermer, kragtes Hoofstuk 9 van die grondwet tot stand gekom het.

Die hoop is nou dat die handves ingesluit word in die kommissie se volgende verslag aan die Parlement en dat, as die Parlement die verslag aanvaar, daar ook op dié manier erkenning gegee sal word aan die handves.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top