God se koninkryk werk só, het Jesus verduidelik: Dit begin klein, soos ’n mosterdsaadjie, en groei groot, soos ’n boom. So werk dit ook met ’n klein erflating van Dickie Webb – dit groei steeds …
Dickie Webb, lid van een van die stigter-families van Kleinmond in die Wes-Kaap, was ’n onderwyser by die Departement van Kleurlingonderwys in die vorige bedeling. In 1976 sterf hy kinderloos en laat R500 na wat onder sy vyf susters verdeel moes word.
Hulle besluit egter om, in samewerking met die bruin gemeenskap, eerder ’n trust met hulle erfgeld te stig: ’n Beursfonds vir kinders van die destydse NG Sending-gemeente van Kleinmond. So sou Dickie se lewenswerk, as opvoeder en Christenrolmodel, ná sy dood bly voortgaan.
Sedertdien het die beursfonds, sowel as die VGK se erns dat hulle jongmense gehelp moet word om opvoedkundig te vorder, steeds bly groei.
Oom Barend Dramat, een van die stigterslede, vertel: “Ons gebruik slegs die rente van daardie oorspronklike belegging. Vanjaar is beurse aan 14 leerders en vier studente toegeken. Gemeentekinders (vanaf gr 8) kan aansoek doen. Die trustees vertrou die jongmense se diskresie met die besteding van die geld. Hulle hoef ook nie in detail daaroor verslag te doen nie.”
“Dit het my van kleins af geleer om te budget,” lag Jacques Sias. “En om hard te werk. Die enigste voorwaarde om geld by die beurs te kry, is dat jy moet slaag. As jy druip, hoef jy nie die geld terug te betaal nie, maar dan kry jy nie weer geld nie. So, jy leer hard!”
Jacques is nou 35. Hy is seker dat hy nooit skool sou klaar gemaak het as dit nie vir die beurshulp was nie. Deesdae bevorder hy, as lid van die kletsrymgroep, Tribal Echo, goeie waardes in sy gemeenskap. Sy suster, Anneke (31), het ná skool kantooradministrasie studeer aan die Boland Kollege. Sy werk nou in Kleinmond.
“Ons het ons beursgeld gebruik vir skryfbehoeftes, klere, boeke, toiletware,” vertel Anneke. Hulle moes in die naburige Caledon skoolgaan en het in die koshuis gebly. Hulle kon een maal per maand vir ’n naweek huis toe gaan. Die taxi-geld daarvoor het ook uit die beurs gekom.
Die Dickie Webb-fonds groei verder deur jaarlikse kollektebydraes uit Kleinmond se VGK en NG gemeentes. Dickie se familie ondersteun ook steeds die fonds met gereelde bydraes.