Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Kanga-ouers is God se koester-arms

Verbeel jou julle kry vandag julle aanneembaba. Ná jare se wag en wonder, lê die piepklein pienkvoet uiteindelik in julle arms. Oorstelp ry julle huis toe. Dit word badtyd. Onbeholpe woel julle die lyfie los uit die kombersie. Sukkel met die kleertjies se knopies. En dan sien julle die frokkie! Op julle baba se borskassie pryk die woorde: “Hallo! Ek is tuis!”

Dit is ’n liefdesgeskenk van julle baba se “middel-mamma”. ’n Vrou wat haar, selfloos, blootgestel het om julle weerlose babatjie te koester totdat julle hom kon ontvang.

Wanneer babas vir aanneming wag, verloop ’n vensterperiode van gemiddeld twee tot drie maande voordat die baba aanneembaar verklaar word. Elke aanneming en die gepaardgaande wetlike proses verskil wat hierdie tydperk betref.

Aangesien die baba in hierdie periode nie aanneembaar is nie, is tydelike versorging nodig. Voorheen is sulke babas in hospitale of kinderhuise versorg. Navor­sing toon egter dat hulle meer intensiewe aandag nodig het. Vandaar die konsep van kanga-ouers wat vir sulke babas ’n tydelike liefderyke tuiste bied.

Tania Schultz
Tania Schultz vertel van die opwinding en omwentelings wat ’n huishouding tref wanneer hulle tydelik ’n veilige tuiste vir ’n kanga-baba bied. Die Schultz-gesin het reeds ses babas met liefde versorg en is nog lank nie klaar met hierdie wonderlike werk nie.

Eloise Loots, maatskaplike werker by PROCARE, ’n organisasie wat aannemings fasiliteer, vertel: “’n Baba se eerste traumatiese ervaring is sy geboorte. Die skielike wegskeur uit die donker, warm, veilige baarmoeder en dan die skok-aankoms in ’n koue, raserige wêreld vol verblindende ligte. Gelukkig hou sy ma hom dan dadelik vas en fluister: ‘Toemaar liefie, ek is hier; ek sal jou vertroetel en met my lewe beskerm.’”

Wanneer die baba egter vir aanneming beskikbaar gestel word ontbeer hy hierdie lewensnoodsaaklike koestering.

Daar word natuurlik goed na sy fisiese behoeftes omgesien: Sy doek word gereeld geruil en hy word gewas en gevoed. Maar daar is niemand wat vir ure in verwondering oor hom sit en koer nie.

Weens ’n tekort aan hospitaalpersoneel, gebeur dit ook dat die baba soms noodgedwonge vir ’n ruk lê en huil of ongemak moet verduur, want daar is ander, sieker babas wat dringender aandag nodig het.

Kanga-ouers kan so ’n wag-vir-aanneming-babatjie vashou en troos. Hulle verhoed dat hy in sy eerste lewensweke reeds die allerbelangrikste – ’n ervaring van toegespitste liefde – ontbeer.

Op Saterdag, 7 Mei, die dag voor Moedersdag, het Helderberg Uitreik, die uitreikorganisasie van die NG gemeente Helderberg in Somerset-Wes, ’n babatee met ’n verskil gehou. Die toegangsfooi: ’n pak weggooidoeke. Hiermee is ’n nuwe projek geloods: Kanga&Roo – waarmee hulle fondse insamel om kanga-ouers te onder­steun met formulemelk, doeke en dergelike benodigdhede.

Terselfdertyd het Tania Schultz, ’n gemeentelid, ook haar boek, Memoires van ’n Ma, bekendgestel. Tania en haar man, Werner, is landwyd bekend vir hulle kinderbediening, KidsXpress.

Tania skryf openhartig oor haar veelkantige ervaring van ma-wees: Van haar dogtertjie-drome; die geboorte van hulle drie kinders; ’n onverwagse miskraam in die twaalfde week van ’n ewe onverwagse swangerskap; die verlies van hulle middelste kind in ’n noodlottige ongeluk; en die troos en heling van ses agtereenvolgende kanga-babatjies se versorging.

’n Verhaal met lieflike eggo’s van Jesaja 66 se God-woorde, waarin Hy troos dat Hy ons koester “soos ’n moeder” wat “haar kind laat veilig voel …”

▶ Kontak Tania by tania@kidsxpress.org of 084 717 0660 vir meer inligting.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top