Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Jong pryswenner opgewonde oor toekoms van kerk

Annette Potgieter (28), die redakteur en inisieerder van Jong teoloë praat saam … wat die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys ingepalm het, is opgewonde oor die toekoms van die kerk as gevolg van die geweldige optimisme van haar generasie.

Sy het veral hierdie optimisme ervaar deur haar kommunikasie met 14 studente van teologiese fakulteite van verskeie universiteite in Suid-Afrika oor hedendaagse geloofs- en lewensvrae om dié boek saam te stel.

AnettePotgieter
Annette Potgieter, redakteur van Jong teoloë praat saam … “Die hele boek verteenwoordig my hartklop. Dit was vir my ’n besonderse voorreg om in kontak te kom met ander teologiese fakulteite,” sê sy. Foto: Dan de Koker

Annette se dryfveer agter die projek was om ” ’n platform te skep waar jong teoloë idees kon kontekstualiseer”. “Ek wou hoor wat dink ander teoloë wat ook nog wonder wat beteken gemeente, Suid-Afrika en geloof. Ek wou hê dat ons as minder gevestigde teoloë (jong teoloë) begin saam praat met die kerk en so ’n debat ontketen waar ons mekaar kan inspireer en idees uitruil,” sê Annette.

Annette het met die ontvangs van die prys die Andrew Murray-prysfonds sowel as Bybel-Media, die uitgewer van die boek, bedank dat hulle jong stemme hoor.

“Ek dink jonger teoloë is ontsettend belangrik. Die feit dat die Andrew Murray-prysfonds dit raaksien be-vestig dit net. Ook dat Bybel-Media ’n kans vat op ’n idee van ’n student wat niemand ken nie, wys dat daar ’n behoefte is in die kerk aan gesprek met goeie idees wat nie net wil bly in ’n biblioteek nie, maar in die harte van lidmate verandering bring,” het Annette vanuit Berlyn, waar sy tans besig is met haar PhD in Nuwe Testament by Humboldt Universität zu Berlin, per e-pos laat weet.

Sy hoop om binne die volgende jaar haar tesis af te handel en wil baie graag in Suid-Afrika haar liefde vir teologie kom uitleef, sê sy.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top