Boodskap vir vandag, ’n bediening via e-pos wat deur Bybel-Media (BM) moontlik gemaak word, bereik daagliks meer as 8 800 mense.
Dié geestelike dagstukke, geskryf deur dr Carel Anthonissen van die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit, is een van ’n wye reeks aktiwiteite waaroor Bybel-Media in sy jongste jaarverslag rapporteer.
Dit het sowat 8 765 e-pos-intekenaars en 8 188 aktiewe toepassing (“app”)-gebruikers. Dié gratis toepassing vir tablette en slimfone is vir Apple– sowel as Android-toestelle beskikbaar en kan gratis by jou app-winkel afgelaai word.
Die boodskap is veral gerig op mense wat dikwels daagliks nie meer tyd vir stiltetyd het nie, en volg in hooftrekke die Leesrooster se tekste, sê Anthonissen.
Onderaan elke Boodskap vir vandag-e-pos staan geskryf dat BM dit moontlik maak omdat hulle “daarin glo dat die Woord van die Here deur verskillende mediums versprei moet word”.
Ander bedienings wat deur verskeie mediums deur BM moontlik gemaak word sluit in die Nehemia Bybelinstituut, ’n gevangenebediening, Luisterseisoenpreke (preekvoorstelle wat gratis by www.seisoenvanluister.co.za vir predikante gelaai word) en Kruisgewys (’n gratis blad wat aan meer as 3 000 kerk- en gemeenteleiers versprei word).
