Die Moderamen van die NG Kerk in die Vrystaat het in ‘n verklaring ‘n sterk boodskap aan gelowiges uitgestuur oor wat hulle te doen staan as dit lyk of dinge in die land skeef loop. Die volledige verklaring lui soos volg:
Die Moderamen het tydens hulle laaste vergadering op 18 Oktober 2016, kennis geneem van gebeure in Suid-Afrika:
- Die #FeesMustFall-veldtog met die gepaardgaande ontwrigting op kampusse dwarsoor die land wat die lewens en toekoms van talle Suid-Afrikaners direk raak;
- Binnegevegte in die regerende party wat in die openbaar uitspeel, onder andere in dreigende hofsake en wat dreig om die politieke en ekonomiese situasie in Suid-Afrika onstabiel te maak;
- Die onstellende skaal van korrupsie wat telkens aan die lig kom;
- Geweldsmisdaad wat onnoembare pyn en die ervaring van onherroeplike verlies vir baie Suid- Afrikaners beteken;
- ‘n Ernstige langdurige droogte wat lewensbedreigende afmetings aanneem, nie net vir die boerderygemeenskap nie, maar ook vir die inwoners van dorpe en stede wat beleef dat watertoevoer vir korter of langer periodes onderbreek word.
Wat staan die kerk as gemeenskap van gelowiges te doen in ‘n tyd soos hierdie? Uit die Bybel wat die rigsnoer van gelowiges is, is daar die volgende riglyne:
- Gelowiges bly toegewy aan die Here (Romeine 12:11);
- Gelowiges bly liefdevol teenoor hulle naaste (Romeine 12:9-10);
- Gelowiges bly hoopvol ten spyte van ‘n situasie wat dreig om hooploos te lyk (Romeine 12:12; I Petrus 1:13);
- Gelowiges bly getuig en stry teen ongeregtigheid in die samelewing (Amos 5:24);
- Gelowiges bly voortdurend bid (Kolossense 4:2; I Tessalonisense 5:17).
“Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra” – Filippense 2:15-16.
Vriendelike groete in Christus.
Ds Helgard J van Rensburg (voorsitter)
Prof Fanie Snyman (ondervoorsitter)
Dr Carin van Schalkwyk (skriba)
