Met die nuwe jaar in aantog is daar duisende eerstejaars na die onderskeie studentekampusse regoor die land op pad. ʼn Paar NG kerke oor die land sal weer dié studente “ontvang” en hulle voorberei vir die jaar wat wag.
Die NG PUK Kandelaar-eerstejaarskamp skop reeds vroeg af. Vanaf 10 tot 13 Januarie kan nuwe Pukke dié kamp bywoon teen R800 (T-hemp ingesluit). Belangstellendes moet aanlyn by www.ngpukkandelaar.co.za bespreek. E-pos bewys van betaling na ngpukkandelaar@gmail.com of faks na 018 299 2596.
Kruiskerk in Stellenbosch se eerstejaarskamp is vanaf 15 tot 18 Januarie by Bergkroon in Wellington. Die tema is #HomeImprovement en die koste beloop R750. Registreer by www.kruiskerk.com en kry ook hier meer inligting.
NG Kerk Somerstrand noem vanaf 2017 hulle eerstejaarskamp ʼn “studentekamp”. “Daar gaan steeds aspekte van ’n eerstejaarskamp wees, soos raad oor kampus- en studentelewe, maar dit is meer uitgebrei vir alle studente,” sê ds Rethie van Niekerk van dié gemeente. Die kamp sal vanaf 17 tot 20 Januarie by die Sumcay-kampterrein plaasvind en beloop R800 per persoon. Besoek www.ngkerksomerstrand.co.za/studentekamp vir meer inligting en om te registreer. Vanjaar se tema is “En route: The Road Less Travelled”.
Die NG gemeente Universiteitsoord in Pretoria se eerstejaarskampe is vanaf 23 tot 27 Januarie en die koste beloop R995 per student. Volgens Jana de Lange, studenteleraar by dié gemeente, sal daar drie kampe wees – twee vir koshuisstudente en een vir dagstudente. “Die kamp vir dagstudente is vir enige student in Pretoria wat graag op die kamp wil gaan – jy hoef nie noodwendig by Tukkies te swot nie,” sê Jana. Belangstellendes kan by http://www.universiteitsoord.co.za/Kamp/Inskrywings gaan inskryf.
NG Moedergemeente in Wellington en die Studentekerk in Bloemfontein kon nog nie hulle finale reëlings tref nie omdat hulle nog nie datums het wanneer die eerstejaars in die nuwejaar moet aanmeld nie. Belangstellendes kan onderskeidelik ds Theo van Zyl by theo@wellingtongemeente.co.za kontak en vir Marie Zietsman by info@studentekerk.org.
