Was, stryk, kook, huisskoonmaak. Is daar meer, behalwe hierdie noodsaaklikhede, wat ’n huiswerker moet weet? Kyk ’n mens na die NG gemeente Moreletapark se kursusprogram vir die opleiding van huiswerkers, is die antwoord beslis ja. ISABEL BALLOT vertel meer.
Moreletapark se kursus vir huiswerkers strek oor twee weke: Maandag 6 Februarie tot Vrydag 17 Februarie 2017, elke dag van 9:00 tot 16:00. Die volgende modules word aangebied: Kookklasse (elke oggend) van 9:00 tot 12:00, was en stryk, werketiek, kommunikasie, konflikhantering, telefoonetiket, hoe om ’n werksonderhoud te hanteer, alkoholmisbruik, MIV en vigs, gesinsgeweld, die omsien na verswakte bejaardes en die omsien na babas, algemene skoonmaak, en ouerskapvaardighede.
Dit word aangebied vir vroue van Woodlane Village, die plakkerbuurt langs die kerk.
Die program word georganiseer deur Retha Erasmus, koördineerder van gemeenskapsontwikkeling by Moreletapark. Maandagoggend 6 Februarie help Retha 10 geesdriftige vroue om te registreer. Hulle betaal R50,00 om opgelei te word as ’n huiswerker. Woon hulle al die modules by, kry hulle R30,00 terug. Elkeen kry ’n plastieklêer met resepte, ’n notaboekie en ’n potlood. As hulle die kursus voltooi, is daar vir hulle ’n sertifikaat en onderhoude word vir hulle gereël.
Vanaf 12:00 tot 13:00 elke dag geniet die vroue die vrug van die oggend se arbeid. Dan is daar ’n kort Bybelstudie saam met pastoor Joshua Sawa van Moreletapark.
Woensdagmiddag se module gaan oor kommunikasie, konflikhantering, telefoonetiket en hoe om ’n werksonderhoud te hanteer. Retha bied hierdie module aan. Sy verduidelik vier kommunikasiestyle aan die vroue: aggressief, passief, passief-aggressief, selfgeldend.

Toe Retha verduidelik wat passief-aggressief beteken, gaan daar ’n ligte roering deur die groepie. Hulle ken sulke mense. Daardie mense wat nie “oe” of “aa” voor jou sê nie, maar wag maar dat jy jou rug draai. Almal stem saam dat om selfgeldend te wees die beste styl is. Maar hoe nou gemaak as jy nie kan nie? Maklike antwoorde is daar nie.
Die realiteit is dat daar sulke geleenthede in ’n huiswerker se dag is waar sy voor dié kommunikasiestyle te staan kom. Soms word sy van dinge beskuldig waaraan sy nie skuldig is nie.
“Dis jy wat die koppie gebreek het.”
“Jammer mevrou.” Al was dit nie jy nie.
Hoe vergewe ’n mens? Retha gesels met die vroue daaroor dat God die Regter is. Dit is nie vir mense om te oordeel nie. Daar word instemmend geknik.
As ’n mens oor kommunikasie praat, bly kultuur nie agterweë nie. In sekere kulture word dit as slegte maniere beskou om ’n persoon in die oë te kyk as jy met hom of haar praat. In ander word jy as onbeskof of selfs skelm beskou as jy dit nie doen nie.
Retha moedig hulle aan om oogkontak te maak gedurende onderhoude. Hulle moet versigtig luister na die vrae wat aan hulle gestel word en eerlik antwoord. Hulle moet vrae vra as hulle nie verstaan nie of as hulle nog inligting wil hê.
Om te kook is seker een van die mees prettige modules in hierdie kursus. Maar voor jy kan kook moet jy eers kan meet. En meet en kook is wat Hannetjie Joubert, een van die vrywilligers wat hier help, hulle leer. Maatkoppies, maatlepels en maatbekers word uitgehaal. Later word die vroue in drie groepies verdeel en elke groepie gaan leef hulleself uit voor ’n stoof. Hulle vind gou uit dat daar meer as een manier is om ’n hoender voor te berei! Hannetjie maak dit vir hulle opwindend.
Hierdie is ’n program waarin die vroue van Woodlane Village baie leer, maar die vraag is: Hoe pas ’n kursus vir huiswerkers by die missie van die kerk van Christus in? Kan Retha dit in ’n sinnetjie opsom?
Retha lag. Ja, sy kan. Maar nie in ’n sinnetjie nie. Sy verwys na die boek When helping hurts deur Steve Corbett en Brian Fikkert wat Moreletapark in hulle gemeenskapsontwikkeling gebruik. Sy gebruik die terme “the Kingdom without the King”; “the King without the Kingdom”.
Dit help nie om daar in Woodlane Village te gaan evangeliseer as sy nog nie ’n verhouding met hierdie vroue opgebou het nie. Nou help sy hulle, daar is interaksie en kommunikasie en dit gee haar die vrymoedigheid om by hulle in die Village te gaan kuier en saam met hulle Bybelstudie te doen.
Jesus het die koninkryk vir die mens se geestelike en fisiese behoeftes daargestel.
Op ’n besondere manier laat Moreletapark hier die koninkryk van die Koning kom.
