Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Met sorg word omgesien na selfs die kleinste onder die gelowiges in die Caprivi.

Vrystaters help die Caprivi se mense

“En julle sal my getuies wees …” Dié teks uit Handelinge 1:8 bevat ’n Bybelse oproep om die evangelie te deel. En een wat die Ring van Vredefort in die Vrystaat met toewyding in die Caprivistrook in Namibië uitleef. DAVID YZELLE vertel meer.


“Ek glo dat ons op ’n beskeie manier vir die mense van die Caprivi hoop bring,” sê dr Pieter van Jaarsveld, voorsitter en voormalige moderator van die Vrystaat, oor die kerk se betrokkenheid in ’n streek wat soms die Poort na Afrika genoem word.

Die kerkgeboutjie by Linyanti. ’n Bestaande murasie is opgebou, ’n dak opgesit en die gebou geverf. Foto’s verskaf

Die kerk se verbintenis met die gelowiges in die Caprivi is kultureel-histories van aard. Die plaaslike bevolking in die Zambezistreek is die Lozi’s. Dié groep stam af van die Sotho’s wat tydens Silkaats, neef van die Zoeloe-koning Shaka, se verwoesting van die Vry­staat in die 19e eeu gevlug het en noord van die Zambe­zirivier versmelt het met ’n stam wat op hulle beurt uit die huidige Demokratiese Republiek van die Kongo gevlug het. Die Lozi’s het die kultuur van die Kongolese aangeneem en die taal van die Sotho’s.

In 2006 het Van Jaarsveld die NG Kerk van die Vry­staat by die Verenigende Gereformeerde Kerk se sino­de­sitting in Katima Mulilo verteenwoordig. Tydens dié geleentheid het die VGK die NG gemeente Botha­ville uitgenooi om betrokke te raak by die sentrale en meer suidelike deel van die Caprivi. Die NG gemeente Viljoenskroon was toe jare lank reeds in die oostelike punt van die Caprivi betrokke, en Parys later by twee ge­meentes aan die heel westekant langs die Kwando­rivier.

Die gemeentes van Bothaville het aanvanklik op aan­beveling van die leierskap van die VGK in die Caprivi by vier gemeentes betrokke geraak: Masokutwani, Muketela, Linyanti en Sangwali (op 130 km die verste van Katima Mulilo). Die kerk betaal sedert 2007 die salarisse van die evange­liste wat in die gemeentes werk­saam is en wat deur die Ring van Ngweze (die ring van die VGK in die Zambezistreek) aan Botha­ville toegeken is om by betrokke/behulpsaam te wees. Se­dert 2015 is die kerk ook by Mission Village in die streek betrokke.

Uitreike

Hoewel die ring geen voltydse verteenwoordigers in die Caprivi het nie, stuur die gemeentes van Viljoens­kroon, Parys en Bothaville jaarliks groepe lidmate wat veral in die winterskoolvakansie daar werk.

Betrokkenheid in die Caprivi behels evangelisasie-, kinder- en jeugwerk tydens elke uitreik. Daarom dat dit belangrik is om jongmense saam te neem met ons uitreike, sê dr Van Jaarsveld. “Jesus het ons geleer dat ’n mens nie net na die siel omsien nie, maar ook na mense se fisieke behoeftes.

Speel-speel word jong gelowiges van die Vrystaat ingespan vir jeugwerk onder die kinders van Sangwali.

“Die ongekende armoede van die mense in die Ca­pri­vi maak veral op jongmense ’n onuitwisbare indruk. Mense gaan dood van die honger daar. Dit leer ons mense in die Vrystaat weer wat dankbaarheid be­te­ken. Ons kan by daardie mense leer om vergenoeg te wees met ons omstandighede.

Hulle word elke jaar baie hartlik ontvang, sê Van Jaarsveld. “Vir my beteken die dankbaarheid baie, want dit sê vir my dat ons mense se lewe aanraak. Dit gaan ook nie net oor die verskil wat ons in mense daar se lewe bring nie, maar die verandering wat dit bring in die mense wat saam met ons gaan. Niemand kom dieselfde mens terug na so ’n ervaring nie.”

“Die uitreik gee die geleentheid om die sendingopdrag uit te kan leef,” sê Verona Swanepoel, gemeentelid van Bothaville, wat by kinderwerk en Bybelverspreiding betrokke is, en ook vroue in handwerk oplei sodat hulle in hul gesin se behoeftes kan voorsien en hul produkte kan verkoop. “’n Mens kry die geleentheid om met individue in gesprek te tree. Dikwels help dit hul­le om net te praat oor die probleme wat hulle ervaar.

“Hulle nood is so groot en tog bly hulle blymoedig – dit is ’n hoogtepunt om ’n erediens saam met die onderskeie gemeentes te kan bywoon – die koorsang is altyd aangrypend. Dr Pieter ruim ook altyd ’n geleentheid in om saam nagmaal te gebruik. Dit is altyd baie spesiaal, ongeag of dit op die walle van die Zambezi of in die kampterrein by Linyanti is.”

Met die gemeente se aanvanklike besoeke was dit Llewelyn Niksch, ’n boer van die distrik, se taak om ’n infrastruktuur (toilette, storte, warm water, hout) te skep. Instandhouding van al die toerusting was ook sy verantwoordelikheid. Met sy landbou-agtergrond het Llewelyn ook gehelp om drie groentetuine te vestig en het hy later deel van die mediese span geword.

Maya Steyn van die NG gemeente Bothaville sit hand by om medies-verwante nood onder plaaslike inwoners te verlig.

By een van die plekke waar hulle gekamp het, vertel Llewelyn, het die eienaar altyd op die vraag oor hoe dit met hom gaan, geantwoord 95% goed. “En as jy vra wat van die ander 5%, was sy antwoord dat hy finansiële probleme het.

“’n Mens sien van die armste mense wat ’n blymoedige lewe lei, wat dankbaar is vir die geringste wat vir hulle gedoen word.

“Ná elke uitreik kom jy terug met groot dankbaarheid en ’n nuwe gesindheid in jou hart.”

Matrieks

Van Jaarsveld se seun, ds Mias van Jaarsveld van die NG gemeente Betlehem-Wes, het in Desember 2016 saam met ’n groep matrikulante van die Hoërskole Witteberg en Voortrekker in Masokutwani en Linyanti gaan kuier.

Volgens Mias is die Caprivi die perfekte plek waar jong gelowiges hulleself ná matriek kan oriënteer, ­Afrika kan beleef en iets kan sien van wat geloof in aksie werklik behels. Mias glo ook dat dit hier nie gaan om die wen van siele nie. “Ons wil nie tel hoeveel mense tot bekering kom nie, ons wil die gemeenskap ondersteun en oplig.”

“Dit was ’n wonderlike ervaring,” sê Maryke Jansen, ’n matrikulant wat dié Afrika-wegbreek – na nie net die Caprivi nie, maar ook Zambië en Malawi – meegemaak het. “Ek dink dit is presies wat ’n mens net ná matriek nodig het om weer die eintlike rede van ons bestaan hier op aarde raak te sien en te besef hoe klein ons is – en hoe nodig ons die Here het. Ek het geleer dat een glimlag soveel meer werd is as geld en dat ’n mens met ander oë na mense moet kyk, nie na die uiter­like nie maar na die innerlike.

“Die mense maak ’n mens se hart warm en uiteindelik het die mense na wie ons moes uitreik, met hulle vriendelikheid en gasvryheid na óns uitgereik. Dit was ’n Godsfees en ’n wonderlike voorreg.”

Volhoubare verhoudings met gelowiges in die streek word gebou deur op verskillende bedienings­areas te fokus.

Opleiding

Oor vier jaar is teologiese opleiding aan ’n klompie leiers daar gegee. Daarvoor is daar afsonderlike besoe­ke gereël. Aanvanklik was daar 16 studente. Ná vier jaar het sewe van hulle ’n sertifikaat in teologiese op­lei­­ding van die Universiteit van Pretoria ontvang. Die NG Kerk in die Vrystaat het die projek finansieel onder­steun. ’n Sendelingpaar, Len en Jean Ward, wat langs die Kwan­do­rivier woon en werk, word ook ondersteun.

’n Mediese bediening gee aandag aan basiese ge­sond­heidskwessies. Met die oog daarop gaan daar elke keer gekwalifiseerde verpleegkundiges en, as dit kan, ’n mediese student saam.

Die ring help ook met raad om van die gemeenskap se mielieboerdery langs die Linyantirivier ’n sukses te maak. Daarvoor is ’n hamermeul en waterpomp vir hulle geneem. In 2014 is ’n groentetonnel by Sangwali en in 2015 ’n kleiner tonnel by Masokutwani gebou.

’n Bouspan het ook oor die afgelope 10 jaar sewe staalstrukture gaan oprig. Die struk­ture word as plek­ke van aanbidding aan­gewend.

In 2010 het die ring ’n skenking van Kanada ontvang in die vorm van ’n soja­melkmasjien wat by die kerkgebou in Katima Mulilo geïnstalleer is. ’n Klompie lidmate is opgelei om sojamelk en jogurt van sojaboontjies te maak.

Dié projek vorder ongelukkig nie en ander uitdagings is daar ook: kwessies soos voorvaderaanbidding, louwarm lid­ma­te, geldelike nood en onmin binne gemeentes.

’n Heilige oomblik … Morgan du Toit van Betlehem bid saam met ’n medegelowige van Masokotwani.

Dit is egter die hoop waarvan dr Van Jaars­veld praat, wat die kerk dryf om aan die toekoms van die gelowiges in die Caprivi te dink. “Ons beplan ’n uitreik van 1 tot 10 Julie 2017 waar ons beplan om met ons normale werksaamhede voort te gaan. Indien die behoefte daar is en ons versoek word, sou ons graag met ’n volgen­de fase van teologiese opleiding wou begin om die evangeliste en lekewerkers toe te rus,” vertel dr Van Jaarsveld.

“Die bouspan gaan ook van 10 tot 15 Ju­lie 2017 ’n staalstruktuur in Mission Village oprig.”

Hier én daar

’n Mens kan natuurlik vra of die kerk dan nie genoeg werk op eie bodem het nie? Waar­om so ver uitwyk terwyl die Vrystaat self onder soveel armoede gebuk gaan?

“Ek verwys weer na die opdrag van Han­delinge 1:8 dat ons die Here se getuies sal wees in ons eie gemeenskappe én in gemeenskappe verder, verder en nog verder van ons,” sê Van Jaarsveld. “Wanneer men­se eers die nood elders gesien het, ontwikkel hulle ’n sensitiwiteit vir die nood in hul­le eie gemeenskappe.”

Plaaslik is Bothaville onder meer betrokke by ’n voedingskema wat daagliks ’n gekookte ete vir 1 000 mense gee, by ’n kinderhuis vir Sothosprekende kin­ders; die A-Maize-Ing-sentrum wat op unieke maniere verskeie soorte opleiding gee, en ’n bedie­ning aan arbeiders. Ons is ook by twee gemeentes in Lesotho betrokke; by ’n bediening in Malelane wat in die Laeveld onder Swazisprekende mense en mense van Mosambiek werk.”

Enige raad aan gemeentes wat betrokke wil raak? “Gaan op ’n uitreik saam met gemeentes wat reeds op ander plekke betrokke is,” sê Van Jaarsveld. “Gaan beleef dinge eerstehands en besluit dan. Dit is die pad wat ons in ons vorige gemeente ook gedoen het. Die ervaring wat ek met die werk in Zambië opgedoen het, kan nie in waarde bereken word nie. “In 2014 het ’n groep van sewe lidmate van Betlehem en in 2015 ’n groep van 12 lidmate van Betlehem die uitreike met ons meegemaak. Daar was ’n versoek dat hulle vanjaar weer ’n groepie wil saamstuur.

“Dit is hoe so ’n bediening op mense begin groei en uiteindelik lei tot medeverantwoordelikheid of ’n soortgelyke bediening elders.”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top