Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Lidmate van NG gemeente Rietfontein-Noord vier Opstandingsondag met sonsopkoms op Magaliesberg. Foto: Francois Naudé

Gemeentes reis na die kruis

Paasfees is die afgelope Lydensweek op die Magaliesberg tydens sonsopkoms, met pasgamaaltye, gebedswandelinge en vele meer gevier.

By die NG gemeente Rietfontein-Noord in Pretoria het lidmate tydens die hele Lydensweek na die kruis gereis.

Ds Francois Naudé en ds Tiaan van Niekerk vertel: “Maandagaand het ons ’n Paastablo aangebied. Die verhaal van die kruisiging is deur lidmate self vertel en afgewissel met Skrifvoorlesings en gepaste tekens soos ’n kruik olie, ’n doringkroon en ’n mantel wat by ’n aanvanklik leë kruis neergelê is. Dinsdagaand het ons ’n Taizé-aanbiddingsdiens gehou en Woensdagaand het ons die Paasfliek Risen gekyk. Donderdagaand het ons ʼn tipiese Joodse pasgamaal met bitter kruie, soutwater en ongesuurde broodjies aangebied. Vroeg Vrydagoggend is die gebruiklike Goeie Vrydag-nagmaaldiens gehou en Sondagoggend douvoordag het 60 lidmate die Magaliesberg uitgestap om die dag te sien breek. Hierna het ons die Opstandingsondag met ʼn erediens en die doop gevier. Dit was ʼn besonderse week. Die kleure, simbole en stilwordtyd was kosbaarhede om ons eie storie by God se groot narratief in te skakel en die verhaal lewend te hou.”

Die Laaste Avondmaal-skildery van Mariëtte van Velden in die NG gemeente Wellington-Oos. Foto: Jacobie M Helena

In die suide het die NG gemeente Brackenfell spesiaal “ingekleurde” stasies-van-die-kruis aangebied. Ds Lou-Maré Denton, predikant by dié gemeente, sê: “Ons gebruik ons kerkgebou en tuin tydens die Groot Lydensweek en Paasnaweek om aan die gemeenskap ʼn ruimte te bied waarbinne enigiemand kan kom stilword. Buiten die stasies-van-die-kruis-gebedswandel, bied ons ook saans mediatiewe dienste aan. Vanjaar het gemeentelede vooraf prente van die verskillende stasies ingekleur, wat ons saam met gepaste Skrifgedeeltes en kort oordenkings opgesit het.”

Trudie de Kock, ʼn lidmaat van Brackenfell-gemeente, sê haar ervaring was dat die stasies vir haar ʼn manier was om rustig te raak en oor haar lewe na te dink. Duané Mostert, nog ʼn lidmaat, beaam: “Ek dink Lydenstyd is ʼn reis en ons het die belewenis nodig. My gemeente doen moeite dat ons elke tree van Jesus se pad na sy dood op ʼn sagte maar tog treffende manier kan beleef.”

By die NG gemeente Wellington-Oos is die kerkgebou met treffende “kruiskuns” van die kunstenaar Mariëtte van Velden versier.

Die skilderye is met verloop van die Paasnaweek se program van Die Laaste Avondmaal-skildery tot met ʼn skildery van die oop graf afgewissel, sê ds NJ van As. “Mense is in verwondering oor die kuns. Dit spreek hulle op ʼn dieper vlak aan en hulle beleef iets van die evangelie deur die kuns.”

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top