Die ervarings tydens ’n epiese perderit vanaf Heidelberg tot in die Suid-Kaap het vir ’n jong man opnuut gewys hoe naasteliefde lyk.
Petrus Bezuidenhout (19), ’n dooplidmaat van NG gemeente Presidentsoord in Springs wat in ’n sendinghuis in Soedan grootgeword het, het om twee redes dié alternatiewe matriekvakansie gekies.
Hy en ’n vriendin, Hannelie Bremer, wou ’n avontuur aanpak in plaas van net ’n vakansie vol partytjies ervaar én hulle albei versorg sedert hulle skooldae perde. Hulle verkies sagter metodes, sonder geweld, om diere te leer, te hanteer en af te rig. Hulle wou deur die rit mense van wrede afrigtingsmetodes vir perde bewus maak. Vandaar die naam vir hulle rit – REACT (Riding Expedition Against Cruel Training).
Petrus, wat sedert die ouderdom van 13 in Heidelberg, Gauteng woon, sê hy en sy pa, George – wat saam met sy vrou Maretha al 20 jaar vir Geopende Deure werk – het dié rit van sowat 1 500 km saam op Google Earth beplan. Hulle roete het hoofsaaklik uit grond- en plaaspaaie bestaan en hulle het geen ondersteuningsvoertuig gehad nie.
“Ons en vier perde het slaapsakke en ’n tent saamgery maar op die ou end het boere elke aand vir ons plek gegee om te slaap. Boere by wie ons oorgeslaap het, het weer boere verder op ons pad laat weet dat hulle vir ons slaapplek moet gee.
“Hierdie boere was vir my ’n voorbeeld van hoe om jou naaste soos jouself lief te hê. Ons is oral in liefde en met soveel gasvryheid ontvang!”
Petrus en Hannelie het op 29 November 2016 uit Heidelberg vertrek en op 22 Februarie 2017 in Gouritsmond aangekom.
Petrus sê dié avontuur het hom soveel geleer. “Ons moes leer om self uitdagings te hanteer en om met enige persoon oor die weg te kom. En om altyd gasvry te wees.”
Sy droom is om perde te gebruik om mense se lewe te verbeter en om hulle van Jesus te leer.
Hy en Hannelie is tans in Kalifornië vir ’n gevorderde kursus by Monty Robberts, ’n Amerikaner wat sagte metodes vir die afrigting van perde onderskryf en kursusse hieroor aanbied.
