Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die ‘koninkryk van God’ en ’n herstellende gemeenskap

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die einde van die Dawidiese koninkryk, gepaard met die val van Jerusalem en die ver­nie­tiging van die tempel in die jaar 587 vC, het tot ’n geloofs- en bestaanskrisis onder die volk van die Here gelei. Die tempel, die stad en die Dawidiese koningshuis – die pilare van die Judese gemeenskap – is vernietig.

Wanneer die Persiese koning, Kores, Babel sonder slag of stoot inneem, breek daar ’n nuwe tyd in die destydse wêreld aan (Jes 45:1-8; Esra 1). Die Persiërs gee aan diegene wat deur die Babiloniërs ontwortel is, ge­leentheid om terug te keer na hulle onderskeie lan­de. Hulle kon hulle eie kulturele en godsdienstige lewe daar uitleef en bestuur, solank hulle net getrou hulle be­lasting aan die Persiese koning betaal.

Vir die na-ballingskapse gemeenskap van die Here in en om Jerusalem, is die groot vraag: Hoe gee ’n mens uitdrukking aan die koninkryk van God wanneer jy as gemeenskap herstel ná intense trauma? Hoe lyk die lewe van ’n gemeenskap wat in die lig van ’n ge­skiedenis van verdrukking, verlies en ontworteling as ’n herstellende gemeenskap in die teenwoordigheid van die Here wil leef?

Oorvereenvoudig gestel: Daar was groepe in pries­tergeledere wat die ideale koninkryk van God gesien het as ’n soort teokrasie waarin die priesters die dominante rol speel, terwyl die tempeldiens en die letterlike, nougesette onderhouding van die Wet van Moses aan God se koninkryk uitdrukking gee.

Daar was ook die meer militante groepe wat van mening was dat God se koninkryk sal kom wanneer ’n koning uit die geslag van Dawid weer in Jerusalem heers en die vyande van God se volk met geweld aan hom onderwerp.

Hierteenoor was daar diegene wat alle hoop op ’n herstelde gemeenskap binne die bestaande wêreldorde laat vaar het. Wat hulle betref, gaan daar ’n tyd kom wanneer die Here op kosmiese skaal gaan ingryp en sy koninkryk gaan laat kom deur ’n nuwe wêreldorde te skep met gelowiges as die heersers.

Jesus en die Nuwe-Testamentiese skrywers sluit egter aan by die tradisie van daardie groepe wat die Here as die universele God verstaan het. Hy word oral en deur verskillende mense aanbid. Sy genade is vir almal en sy heerskappy is oor almal. Deur skuld te dra en nie te verplaas nie en deur lyding te verduur en nie te bekla nie, word God se koninkryk en sy heil vir alle mense sigbaar.

In hierdie tradisie speel gedagtes soos die Here se wêreldwye heerskappy, sy genade en liefde vir alle men­se, die klein oorblyfsel wat aan sy reg en geregtigheid gestalte gee en skuld wat gedra en lyding wat verduur moet word, ’n belangrike rol (vergelyk Jes 40 – 55, Rut en Jona).

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top