Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Francois van Niekerk aan die woord by vanjaar se Pen-ontbyt. Foto: Neels Jackson

Wanneer God die besigheid oorneem

Dis die verhaal van God wat menslike mislukking verander het in sukses op ’n globale skaal, sê Francois van Niekerk. Hy was die gasspreker by die Pretoriase middestadsbediening Pen se jaarlikse ontbytgeleentheid. NEELS JACKSON doen verslag.


Francois van Niekerk word voorgestel as die stigter van die Mergon-groep en medestigter van die Atterbury-groep. ’n Sakeman wat met ’n konglomoraat van ondernemings wêreldwyd in 10 verskillende sakesektore groot besigheid doen.

Maar as hy sy storie vertel, is dit ’n geloofsverhaal. Een van nederigheid oor homself en verwondering oor wat God gedoen het.

Hy het aanvanklik vir Krygkor begin werk, vertel Van Niekerk. Hy het dit egter verpes dat hy meer en meer tyd aan korporatiewe politiek moes bestee pleks daarvan om die werk doen. Toe bedank hy om sy eie besigheid te begin.

Dit was in die agterplaas van die Rondaliagebou in Pretoriase middestad. Daar was drie werknemers, maar na ’n klompie maande was die situasie maar bedroef. Bankrotskap het hom in die gesig gestaar.

Krygkor het gesê hulle sou ’n bestelling plaas, maar daarvoor sou hulle eers in die volgende boekjaar ’n begroting hê. So lank kon hy nie uithou nie. Op ’n versoek om die mense by Krygkor te gaan sien, het hulle gesê, hy kan kom, maar dit gaan niks verander nie. Daar is nie ’n aankopebegroting voor die volgende jaar nie.

Op pad daarheen het Van Niekerk voor die landbankgebou verbygestap. By homself het hy gedink daar is seker heelwat boere wat daar bid voordat hulle ingaan om ’n lening te vra. En al was hy nie self toe ’n vreeslike meelewende gelowige nie, het hy toe ook daar gestaan en bid, onder ’n boom op die sypaadjie.

En in sy gebed, bied hy toe vir God 30% aan van die besigheid as God hom sou help.

Vandag skud hy sy kop daaroor. Hy het in die proses twee foute gemaak, sê hy. Die een was om met God te probeer onderhandel. God is nie ’n handelaar nie. Sy genade is verniet. Tweedens het hy op daardie oomblik uit die oog verloor dat 30% van ’n bankrot besigheid in elk geval niks werd was nie.

Hoe ook al. By Krygkor het die mense weer aan hom verduidelik dat hulle begroting vir die jaar uitgeput is. Hulle kan nou niks by hom koop nie. Eers in die volgende boekjaar. Uit radeloosheid vra hy toe of hy die produkte aan hulle kan verhuur. En ja, daar was ’n begroting om te huur. Hulle het daar en dan die ooreenkoms gesluit en sy besigheid is gered.

Van Niekerk sê mense vra vir hom hoe weet hy dit was God wat dit gedoen het. Vir hom is dit eenvoudig. Hy weet hy het nie ’n plan gehad nie.

Die res van die verhaal is een van gehoorsaamheid (hy het sy belofte gehou) terwyl hulle in verbasing staan en kyk hoe dié God wat hulle besigheid oorgeneem het, dit tot groter hoogtes voer as wat hulle ooit kon droom.

Hy het jare lank probeer verstaan wie hierdie God is, sê Van Niekerk. Dan vertoon hy ’n skyfie van die sombrero-sterrestelsel wat 28 miljoen ligjare weg is. In vergelyking hiermee is die  son 8 ligminute ver. Die verskil tussen die 28 miljoen jaar en 8 minute is onbegryplik, sê hy. En bloot die grootheid van hierdie stukkie van die skepping sê vir hom iets van wie God is.

Hy noem van die bedrywe waarin hulle sake doen. Dit wissel van eiendomsontwikkeling tot krokodilvelhandsakke, van verskering tot rooibosprodukte, van die herwinning van ondersese kabels tot by hernubare energie.

Maar hy praat meer oor lewenshouding: oor die erkenning van eie swakheid; oor genade wat net ontvang moet word; oor gehoorsaamheid; oor ’n verhouding tot God wat moet groei deur gebed, die lees van die Woord, deur die gemeenskap met ander gelowiges.

Hy praat oor die strik van rykdom, wanneer geld jou baas word, teenoor die verantwoordelike gebruik daarvan vir ander se voordeel.

Daar is ’n groot verskil tussen sukses en betekenis, sê hy. Sukses is goed, maar dit gaan meestal daaroor om insameling. Hierteen-oor kom betekenis in die lewe saam met gee, en dan is dit nie gee om te kry nie. Dit gaan nie oor eie belang nie, maar om ander te dien. ’n Mens moet die stroom van lewe voed, nie jou eie dam nie, verduidelik hy.

Jy moet ’n instrument in God se hand word – en hy gebruik ’n prentjie van ’n troffel om dit te illustreer.

Sedert daardie gebed onder die boom, is God se aandeel in die besigheid tot 70% opgeskuif. Dit is in die vorm van die Mergon-stigting wat in die afgelope boekjaar R115 miljoen in dividende ontvang het en dit in Suid-Afrika, die res van Afrika en die Midde-Ooste uitgedeel het aan 135 vennote wat help om die koninkryk van God te laat groei.

Dit wissel van ’n huis vir seksueel misbruikte kinders in Durban tot by ’n versoeningsprojek in Rwanda. Daar is kliniek- en hospitaaldienste, Bybelverspreiding, werkskepping en meer. Soos Pen.

’n Sleutel tot dit alles is gebed. Hulle bid in raadsale oor sakebesluite.

God beantwoord gebed altyd, sê Van Niekerk. Dit gebeur selde in die tydsraamwerk wat jy in gedagte het, maar altyd in ’n beter tydsraamwerk.

Vir meer inligting, gaan na www.doingbusinesswithpurpose.com

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top