“Ons gooi die liewe Here dood met woorde.”
Só waarsku prof Denise Ackermann onlangs. “Ons kan nie luister nie, want as ons luister, is ons kwesbaar,” meen die Anglikaanse teoloog.
Die afgetrede dosent het voor ’n gehoor van sowat 250 mense gepraat oor die onderwerp Rooted in silence: The value of spiritual direction (for clergy).
Ackermann het die ironie daarvan om te praat oor stilte met ’n tikkie ondeunde humor hanteer. Tog was sy ernstig, byna driftig, oor haar pleidooi teen aanbidding wat “hoofsaaklik kognitief is” en nalaat om te vra “hoe jou hart voel” wanneer jy aanbid.
Haar bydra was een van tientalle deur geestelike denkers tydens ’n tweedaagse openingsgeleentheid vir die Andrew Murray Sentrum vir Sprititualiteit in Wellington.

In haar lewe moes sy dieper leer dink oor haar verstaan van God, het die 83-jarige gesê. “Wie is die Heilige vir my?” wou sy hardop weet, voor sy die vraag na die gehoor omgegooi het. “Is die Heilige pure liefde wat smag daarna om met jou te kommunikeer? Ek hoop so,” het Ackermann op Maandag 25 Februarie in ’n lokaal langs die sentrum se nuwe herberg en kapel gesê.
Ook teenwoordig was dr Frederick Marais van Communitas, wat die vorige nag in die nuwe herberg op die sogenaamde Samuel-kampus geslaap het.
Restourasie van hierdie kompleks van historiese geboue in sinodale besit is op die nippertjie voltooi en gaste van verskeie denominasies en medewerkers van regoor die land is tydens ’n skemergeleentheid met vingerhappies en snaarmusiek trakteer buite die kapel wat eens ’n perdestal was.
“Ek was voorsitter van die komitee wat die plek ontwikkel het,” het Marais, wat sinodaal getaak is met teologiese opleiding, verduidelik. “Nou sal ons in terme van die bedryf terugtree en (prof) Elna Mouton sal as kapelmeester, met ’n span mense wat saam met haar gaan werk, die program vul en mense innooi,” aldus Marais.

Oor sy eerste aand in een van die witgedekende herbergbedjies, het Marais gesê: “Die gebou het my opgeneem … it consumed me. Ek het so ingetrek in die geskiedenis hiervan.”
Die kampus dateer uit die 1880s toe die Skotse predikant Andrew Murray dit as opleidingsentrum vir sendelinge ontwikkel het.
Ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, het by die openingsgeleentheid gesê: “Ons hoop is dat wat hier aan’t gebeur is, ’n nuwe beweging in die kerk sal voortbring.” Janse van Rensburg het gesê die vorm van spiritualiteit wat hier ondersoek en beoefen word, “gaan oor meer weet as net die empiriese”.
“As rasionele mense moet ons ook in staat daartoe wees om die rykdom van kennis te erken wat jy verkry deur te glo. ’n Meer diepsinnige kennis wat jou toelaat om beter te sien, beter te verstaan, beter te kan weet.”
Op die vraag oor wie in die meer as twintig eenvoudig dog stylvolle kamers sal mag tuisgaan, het Marais gesê enige mens “wat sukkel om te bid en tyd nodig het om tot rus te kom” is welkom. “Of as jy net aan ’n draadjie hang met jou geloof.”
