Opi Stoep is álmal welkom

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Dis Dinsdag 10 September, ’n heerlike lente-aand in die strate van Pretoria net so kort voor die Jakarandas begin blom. Normaalweg is Heroldstraat, tussen Tukkies se hoofkampus en NG Universiteitsoord, stil in die aande. Maar nie vanaand nie.

Vanaand is daar ’n “vibe”. Vanaand is die straat vol mense, oud en jonk van alle rasse. Mense sit en kuier, staan en braai rondom vure wat rooiwarm brand terwyl ander dans op die roerende ritmes van ’n “live African gospel band”. Dis weer tyd vir ons jaarlikse Opi Stoep Straatbraai en dis ’n fees!

Vier jaar gelede toe die #Afrikaansmustfall- en #feesmustfall-proteste ons kampusse geruk het, het die vyf kerke “op die stoep” van die Universiteit van Pretoria besef ons, as medegelowiges, moet iets doen om hierdie rassespanning aan te spreek. Die predikante van NG Universiteitsoord, Elim Volle Evangelie Kerk en St Wilfrids Anglikaanse Kerk (laasgenoemde twee kerke is albei hoofsaaklik swart, Engelssprekende gemeentes) het toe saam begin werk om ons eie studente, lidmate en ook ouer lidmate meer in kontak met mekaar te bring om juis hierdie krisis aan te spreek. Hervormde Gemeente Philadelphia en Brooklyn Gereformeerde Kerk het ook later deel geword. Daar is doelbewus gewerk daaraan om verhoudinge oor rassegrense te bou en daar het vennootskappe, vriendskappe en eintlik ’n nuwe gemeen(te)skap ontstaan – Opi Stoep.

Sedertdien is daar al verskeie eredienste, funksies, uitreikprojekte, Kerssangdienste en kuiers gereël deur en vir die Opi Stoep-gemeentes. Maar die lekkerste van almal is ons straatbraai. Hierdie braai is nie net vir ons eie lidmate nie, maar vir die gemeenskap, vir enigeen wat op daardie aand verby sou stap of in die omliggende woonstelle rondom die gemeentes woon. Ons bure, die Brooklyn-polisiestasie, is ook deel van die geselligheid en so word hulle ook bedank vir hulle werk in ons gemeenskap. ’n Lekker sappige stukkie wors, pap en sous word vir almal voorsien en dan word daar gekuier, gedans en hoop vir ’n gemeenskap gebring.

Hierdie jaar se straatbraai was die week na die vlaag van geweld teen vroue en kinders en al die proteste wat daarop gevolg het. Soos ons daar staan en braai het twee jong vrouens by ons aangesluit. Hulle is nie lidmate van enige van die gemeentes nie, maar stap elke aand hier verby na hulle woonstel. Een het opgemerk: “I’m always scared to walk in this street at night, afraid that something might happen, but tonight I don’t feel scared at all, I feel safe and welcome.”

Dis wie die Opi Stoep-gemeentes graag wil wees: ’n plek en ’n gemeenskap waar enige iemand veilig en tuis kan voel, ongeag jou ras, geslag, herkoms of denominasie. Ons wil hoop en vreugde bring op die stoep van die universiteit en in die hart van ons mense.

  • Ds Jana de Lange is studenteleraar by NG Universiteitsoord.