Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
“Na hoeveel vloekwoorde begin die NG Kerk uitstap?” Net twee mense het nie gebly om te hoor wat die komediant Schalk Bezuidenhout te sê het nie. Hy dra ’n corduroy-broek en ’n Springbok-trui. My polisieman-oupa sou jaloers gewees het op sy snor, maar sou beslis gefrons het oor sy deurmekaar bos krulle.
“Wat kan ons doen om ’n verskil te maak in Suid-Afrika?” het ds Arno hom gevra.
Hy erken openlik dat hy nie eintlik weet nie. Daar het al soveel dinge verander in Suid-Afrika. Meeste daarvan goed. Hy sien dat ouer mense soms sukkel om hierby aan te pas. Daar is steeds rassespanning, ’n gevoel van “ons teen hulle”.
Maar hy het ’n paar idees.
2019/2020, meer as ooit, is ’n tyd om te luister. Net dit. Nie noodwendig te luister en te reageer nie, net te luister.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2019/10/ek1.jpg” caption=”Ds Jana de Lange is studenteleraar by die NG gemeente Universiteitsoord.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]
Jy hoef nie op social media te post en te share dat jy die cause ondersteun nie. Luister net. Dit kan byvoorbeeld waardevol wees om na iemand van ’n ander ras te luister oor wat met hulle gebeur het en hoe dit hulle geraak het. Selfs al was jy nie skuldig daaraan nie.
Worry oor jouself. En nie op ’n selfsugtige manier nie. Eerder op ’n introspektiewe manier. Worry oor jouself. Besluit wat jý kan doen om ’n beter mens of beter Christen te wees en hou op worry oor wat ander mense dink en doen. Hou jou kant skoon. Gee ander mense ruimte om hulleself te wees, al is dit anders as jy, al verstaan jy dit nie. Judge mekaar ’n bietjie minder. Moenie die rede wees hoekom hulle die rug draai op die Christengeloof nie.

Wees gaaf met mekaar. Hoe reageer jy op mense wat anders as jy voel, dink of doen? En almal maak soms foute. Is jy bereid om hulle ’n tweede kans te gee? Of kry slegs sekere mense ’n tweede kans terwyl ander summier afgeskryf word? Of dink mense van jou ook “deel ek ’n gelóóf met hierdie persoon”? ’n Bietjie meer geduld, ’n bietjie meer verdraagsaamheid, ’n bietjie meer vergifnis.
As jy Schalk Bezuidenhout se praatjie gemis het, gaan luister gerus na die opname op ons webtuiste. Hy is beslis ’n bietjie anders as jou gemiddelde NG Kerk-lidmaat, maar dalk weet hy waarvan hy praat.
▶ Ds Jana de Lange is studenteleraar by die NG gemeente Universiteitsoord.
