Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Een van die dinge wat ons maklik vergeet is dat die Here kyk na ’n mens se hart en nie jou dop nie. Dis seker een van die kernbeginsels van die storie waar die Here vir Petrus drie keer vra – “Petrus, het jy My lief?” Op die derde vraag reageer Petrus met die woorde: “Here, U weet alles.” God ken jou hart en wil jou gebruik in sy koninkryk.
Wanneer ek aan Fresh Namibia se bedieningaksies dink, resoneer die volgende storie by my van ’n kollega se oupa. Hy moes dikwels as kind by sy oupa oorbly. Die hartseer was dat sy oupa ’n drankprobleem gehad het. Hy het in die aande styf agter sy oupa se blad geslaap. Elke aand net voor slaaptyd het hy sy oupa gevra om vir hulle twee uit die Bybel te lees.
Sy oupa het net standerd 3 gehad en het elke aand na dieselfde stuk teks geblaai, die alombekende Psalm 23. Net voor hulle gelees het, het hy ook eers ’n XXX-mint vir homself gevat en vir sy kleinseun, want ’n mens mag nie die Bybel met ’n drankasem lees nie.
Nodeloos om te sê vir my kollega as jong seuntjie was die mint so sterk dat dit nie lank in sy mond gebly het nie.
Oupa het dan net die eerste vers gelees; “Die Here is my Herder”. Daarna het oupa saggies aan die slaap geraak.
Jare later het die kollega deur ’n groot krisis gegaan waar hy homself bevraagteken het in sy werk en of die Here hom kan gebruik in die kerk …
Die Here het hom herinner – dat as God sy dronk oupa kon gebruik het om hom tot die uitleef van sy roeping te kon bring, hoeveel te meer kan die Here nie hom gebruik nie.
Hierdie is die storie van Fresh Namibia om mense te bedien met die lewegewende boodskap dat God jou wil gebruik nes jy is waar jy is, want ’n ontmoeting met die lewende Here Jesus kan jou nie los nes jy is nie.
Fresh Namibia is tans by 61 besighede en sewe skole asook ’n aandkerk en twee gemeentes betrokke op ’n weeklikse basis. Hier bedien ons mense nes hulle is om ook so weer ander te bedien met die lewegewende evangelie.
Mag jy opnuut opgewonde raak oor jou roeping in die kerk en besef dat die Here reguit “shots” speel met gebroke mense.
▶ Ds Ernst Coetzee is verbonde aan www.freshnamibia.com