Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Dis tyd om te wag

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Ek stap met ’n goed uitgewerkte Bybelstudiestuk onder my blad by die kerksaaltjie in waar (net!) vier dames oor die ouderdom van sestig vir my wag. Uit die aard van die saak effens ontnugter, want na ’n rowwe dag van afsprake en sperdatums en kinders by die skool optel en rondry, het ek die ganse aand aan my PowerPoint slideshow gewerk om die saal vol 60-plussers te probeer beïndruk. Die tema: Psalm 130 – Ek wag op die Here.

Ek pak die projektor en my skootrekenaar weg; gaan sit maar om ’n tafel saam met die tantes. Die Engelse tannie hou my stip dop. Ek lees Psalm 130 en laat darem nog my notas onder die Bybel uitloer. Niemand van ons hou van wag nie. Ons jaag van die een ding na die ander en raak ongeduldig as ons in die dokter se spreekkamer moet wag of by ’n kassiere beland waar iemand se piesangs nie geweeg is nie. Wie ken nie daai gevoel nie? Die Engelse tannie se oë los my nie vir ’n oomblik nie, maar hulle het nou sommer so ’n glaserigheid ook of verbeel ek my? “Jong, ek hoor nou hierdie storie van wag,” val tannie Wanda my in die rede, “maar ons gee nie meer om om te wag nie. Dit het ons dalk vroeër gepla, maar nou is dit al wat ons kan doen.” Dit voel of sy vir my preek. Dit voel of ek die hele ganse jong geslag verteenwoordig wat van een ding na die ander jaag, wat kwaad raak as ons dinge nie nou kry soos wat ons dit wil hê nie, wat oor ander mense stoomroller en verby hulpeloses skuur om voor in die tou te kom. Die Engelse tannie lyk nou regtig of sy haar goed gaan vat en loop en ek is lus om te vra of sy ooit luister wat ek sê en of ek eerder na Engels toe moet oorskakel.

“Can we please pray for my grandson – he had complications after an operation and I am afraid he is not going to make it,” spring die Engelse tannie my met ’n bewerige stem voor. Dis waar wat tannie Wanda sê – al wat ons kan doen is wag. Waarheen jaag ons? Waaroor raak ons ongeduldig? Die tyd is hier en nou in die wag. En in die wag by die kassiere rond te kyk en te sien dat ’n tannie magteloos vra vir ’n gebed … Geen goed uitgewerkte lesing of preek of professionele PowerPoint kan uitkom by my blote teenwoordigheid en die feit dat ek iemand in hulle nood raaksien nie. Ons vat hande om die tafel en ons bid. “Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.”

Elsabe Horn is verbonde aan Fresh Namibia.

Besoek https://freshvroue.wixsite.com/blog

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top