Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Ons is die nuwe donkies’

Geskiedenis is gemaak toe die eerste 20 proponente as diens­leraars op 3 Maart op Stellenbosch gelegitimeer is. Drie kandidate is ook as leraars gelegitimeer, skryf dr Frederick Marais.


Aan die einde van die diens het prop Melanie Thirion na diens­leraars as “donkies” verwys. Sy het die verhaal vertel van die sen­delinge wat olv dr Andrew Murray opgelei is op Wellington en wat na hulleself as donkies verwys het. “Want,” het hulle gesê, “Jesus het op die rug van ’n donkie in Jerusalem ingery, so sal ons die don­kies wees op wie se rug Jesus na gemeenskappe in Afrika geneem word.” Ons is die nuwe geslag donkies, het prop Thirion gesê, wat nou as gelegitimeerdes vanuit die kerk, die evangelie oor grense sal dra in die gemeenskappe waar ons leef. “Ons verstaan ons amp as diensleraars as ’n geleentheid tot diens. As diensleraars sal ons gemeentes lei om betrokke te raak in die gemeenskap – ja ook daar waar die bekende ampte nie so maklik funksioneer nie!” aldus Thirion.

In 2019 het die Algemene Sinode besluite geneem wat ampte in die kerk verbreed het. In die toekoms sal daar naas leraars, nou ook diensleraars gelegitimeer en georden word. Hierdie leraars se opleiding het almal ’n spesifieke fokus en daarom word hulle toegelaat tot die bediening met ’n toegespitse bedieningsfokus. Diens­­leraars sal in gemeentes en gemeenskappe diens lewer wat ooreenstem met die fokusareas van hulle opleiding. Die areas van bedieningsfokus is byvoorbeeld Jeug en familiebediening; Geloofs­begeleiding; Berading; Gemeenskapsbediening. Dié proponente is nou beroepbaar na gemeentes om in dié bedienings­areas as diensleraars georden en bevestig te word.

Opvallend in die groep van diensleraars is dat die meeste van hierdie proponente reeds vir ’n aantal jare in gemeentes van die kerk betrokke is, maar sonder ampsbevoegdheid. Vir baie van hulle was dit ’n lang pad tot legitimasie omdat die kerk nie vroeër ruimte gebied het vir hierdie bedieninge binne die ampstruktuur van die kerk nie. Honderde familielede, vriende en gemeentelede wat oor jare die proponente ondersteun het, het die diens bygewoon. “Dit is alleen omdat ek ’n baie sterk roeping van God ontvang het, dat ek hierdie lang pad kon stap,” het baie van die proponente in gesprekke aan die kuratorium verduidelik. Almal wat die diens bygewoon het, was diep geraak deur die besonderse mylpaal wat dit vir hierdie proponente en ook vir die kerk is.

Hierdie proponente verkry nou die bevoegdheid om te preek en die sakramente te bedien en sal as dominees deel wees van die kerkrade van die gemeente, en deel van die gemeente se afvaardiging na die ring en sinode. – Frederick Marais is die voorsitter van die Algemene Kuratorium

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top