Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Is die deur gesluit? Dit is een van die laaste vrae wat my vrou vir my vra voordat ons saans gaan slaap. Ek staan gewoonlik dan maar op, en gaan voel weer aan die voordeur, en die agterdeur, en kyk of al die vensters toe is. Ek vemoed dit is ’n ritueel vir baie huisgesinne in Suid-Afrika. Ek hoor van al hoe meer individue wat soek na hoë veiligheidsheinings, 24 uur-sekuriteit, kwaai honde, paniekknoppies en noodgroepe op WhatsApp. Dit is dikwels agter geslote deure wat ons veilig voel, kan wegkruip, onsself kan wees of soms net rus.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2020/08/toit-s.w.jpg” caption=”Ds Toit Wessels is ’n leraar by die Agter-Paarl Geloofsgemeenskap.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]
Om te vra of die deur gesluit is, is egter nie ’n vreemde vraag nie. Ons lees in Johannes 20:19 dat die dissipels ook agter ’n geslote deur bymekaargekom het. Hulle was bang. Bang vir die Jode wat in die nag kon inkom. Hulle was bang, want hulle het geweet hulle word ook geteiken. Maar toe gebeur die wonderlike ding. Jesus kom staan ten spyte van hulle vrees, in die middel van die vertrek en sê vir hulle meer as een keer: “Vrede vir julle!” En so word hulle herinner aan daardie EEN Persoon wat geslote deure nie kan buite hou nie.
Ferdinand Deist skryf in sy boek Nagdissipels die volgende: “Geloof is nie ’n vrees-aksie nie, dit is ’n vaste vertroue. Moed het ’n mens uit jouself. Vertroue het jy in iemand. En dit is juis die vertroue in iemand wat maak dat jy kalmte kan ervaar om te doen wat gedoen moet word.”
Met die afgelope paar maande waar baie geloofsgemeenskappe se kerkdeure ook gesluit is, is dit dalk juis die geleentheid om God agter ons eie huis se geslote deure te ontmoet. Die Bybel praat mos van ontmoetings met God vanuit ons elkeen se “binnekamer”. In die binnekamer waar intieme verhoudings groei. God ontmoet ons ook agter geslote deure. ’n Oop hart word dikwels eers gevorm agter ’n geslote deur.
Dit was aand, en dit was môre … ’n nuwe dag. Dan is dit tyd vir opstaan, oopsluit en uitgaan. Ons is mos gemaak om mense van die lig te wees en nie in die donker te wandel nie. Vir eers wonder ek net vandag, wie staan in die middelpunt van jou vertrek agter die geslote deur? Kan jy soos die dissipels Hom hoor, sien en voel?
▶ Ds Toit Wessels is ’n leraar by die Agter-Paarl Geloofsgemeenskap.