Digiklesia: ‘Steeds sal ons sing’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Namate die grendeltyd voortsleep begin die adrenalien wat groot veranderinge vergesel afneem en word ons duideliker bewus van die uitdagings en tekortkominge van eredienste wat digitaal uitgesaai word. Een daarvan is die plek van sang en musiek in ons erediens.

“Om saam te sing voor die TV is nie dieselfde nie,” hoor jy gereeld. Daar is ’n groot stil leemte waar ons saamgesing het. Ons mis mekaar se stem. Ons mis die gevoel van deel wees van die kerk wanneer ons uit volle bors sing: “U goedheid, Heer!”

So wat staan ons nou te doen? Sommige gemeentes trek YouTube-video’s in van mooi gepolitoerde liedere met blommetjie-agtergronde. Dit ontketen natuurlik die wraak van YouTube se kopieregspeurders! Ander verkies om geen musiek in te sluit nie. ’n Selfoonvideo van die orrelis is net nie dieselfde sonder die gemeente wat saamsing nie.

Nog ander maak video’s van die orkes of ’n individu wat sang lei. Een ding is seker – ons probeer! Dit is een van die eienskappe wat kerk so pragtig maak – gelowiges soek na maniere om dit te laat werk ongeag omstandighede!

Ek het die voorreg gehad om met Johan Heystek, lang jare se musiekleier van Mosaïek, te gesels oor hoe ons musiek gebruik oor uitsendings en praktiese raad vir gemeentes.

Hier is ’n paar gedagtes wat jou dalk verder kan help met jou eie gemeente se aanlyn-sang:

  •  Die samehorigheid wat gemeentesang bring is maar net een van die redes waarom die kerk sing – en nie naastenby die belangrikste een nie. Ons sing eerstens om die eer van God. Die musiek gaan oor Hom en nie oor ons nie. Dan is daar die rol wat sang speel om ons te help verwoord en bely wat ons glo en natuurlik om onderrig te word oor die waarhede van ons geloof. So lank voordat ons kom by ons eie lekker saamsing is daar redes waarom ons sing met of sonder ander om ons. Johan praat van “die geskenke wat Covid vir ons gebring het” waarvan hierdie vir seker een is: Ons het nou ’n uitstekende geleentheid om sang te gebruik suiwer om God te eer en te reflekteer op wat ons glo.
  • Nog een van hierdie geskenke is die geleentheid om musiek ’n ander rol te laat vervul in die erediens. Waar bekwame musikante beskikbaar is kan musiek ingespan word om gelowiges te help om emosioneel te “connect” met die boodskap waarna ons luister. En dit het niks te doen met emosionele manipulasie nie, maar eerder met fokus. In ’n wêreld waar ons aandag uiters verdeeld is kan musiek ons help om hier en nou teenwoordig te wees en in Johan se woorde “my oë na Hom toe draai”. Vir ’n goeie voorbeeld van hoe dit gedoen kan word kyk na een van Johan se dienste hier.
  • Hier is nog ’n stukkie goeie nuus: Die kwaliteit van jou opname is nie so belangrik soos jy sou dink nie. Doen natuurlik die beste wat jy kan, maar dit beteken meer vir gelowiges om iets opreg van hulle eie gemeente te sien en hoor as om ’n fyn gepolitoerde opname te hoor. Daar lê groot waarde daarin om jou eie gemeente se stempel daarop te sit en dit het ’n verrassende vermoë om iemand wat kyk weer hulle eie gemeente te laat “beleef”. “Dit vat hulle weer na daardie plek toe,” sê Johan.
  • Grendeltyd is ’n uitstekende geleentheid vir die verskeidenheid generasies in die gemeente om meer betrokke te raak in die bediening. ’n Ouer orrelis en ’n 15-jarige vlogger (iemand wat gereeld kort video’s aanlyn plaas) kan ’n gedugte span maak! Vooruitbeplanning en spanwerk is vir Johan essensiële elemente vir die skep van ’n goeie aanlyn-erediens.

LEES OOK: Vyf wenke om teb volle kerk te wees

Daar lê vir ons groot uitdagings, maar dalk selfs nog groter geleenthede, voor. Wat gaan ons leer in die grendeltyd wat ons help nuut dink oor hoekom en hoe ons sing wanneer ons weer in die kerk kan sit? Gaan ons iets herwin van musiek en sang se vermoë om ons God te help sien, om ons fokus na Hom te verskuif ten spyte van ons omstandighede? My vermoede is dat hierdie proses ons definitief ’n groter waardering gaan gee vir die voorreg om te sing tot God se eer.

  • Digiklesia is ’n geleentheid om saam te dink oor die geleenthede en uitdagings van digitale bediening. As deel daarvan wil ons jou nooi om ons 100% gratis webinaar by te woon op 14 Oktober. Kom wees deel van die gesprekke en leer by kenners in die teologie, maar ook YouTube-kenners, mediaspesialiste, draaiboekskrywers en meer! Vir meer besonderhede en om in te skryf gaan na http://ngkerkpellissier.co.za/digiklesia
  • Ds Francois Lamprecht is predikant by die NG gemeente Pellissier in Bloemfontein.