Digiklesia: Ons visie moet groot genoeg wees

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Jy kan nie digitaal relevant wees as jy nie andersins relevant is nie.

Laat dit vir ’n oomblik insink. Om relevant te wees in ’n digitale wêreld is een van die groot uitdagings van aanlyn-kerk. Tot voor die inperking het dit dalk goed gegaan met jou gemeente omdat jy een van die min opsies in jou dorp, buurt of omgewing is. Jou gemeente het dalk die skerpste prediker in die kontrei. Toe vind lidmate uit dat aangesien hulle nou digitaal kerk gaan, hulle seker maar kan kyk wat anders daar beskikbaar is in die wêreld van aanlyn-preke.

Jou gemeente moet nou kompeteer vir die aandag van mense wat baie meer opsies het as ooit tevore. Hierdie skep ’n krisis vir gemeentes wat afhanklik is van lojale lidmate om maand tot maand te oorleef. Wat gebeur wanneer hulle die dankoffer eerder elders aanwend? Hoe kry jy mense om in te koop in jou gemeente? Hoe kan jou gemeente nog ’n toekoms hê in hierdie aanlyn-wêreld? Daar is uitstekende inligting beskikbaar oor waarom mense wil gee en waarom nie van besighede soos Neon One en Network For Good wat spesialiseer in navorsing daaroor. (Lees gerus hierdie artikel oor waarom mense gee  en hierdie oor hoe mense aan die einde van die jaar gee.)

LEES OOK: Digiklesia: Nuwe deel van die kerk is besig om op te staan

Ons gemeentes is nie Facebook, Youtube of Google nie. Hulle gebruik inligting, reklame en produkte om geld te maak. Kerke moet ’n ander weg vind. Jy kan kykers probeer dwing om vooraf te betaal om erediensuitsendings te kyk, maar die kanse is goed dat dit weinig “klante” sal oplewer. Nog ’n opsie is om kykers skuldig genoeg te laat voel, maar anders as om die ongemak van ’n “guilt trip” preek te verduur in ’n kerkgebou sal mense heel moontlik net nie verder kyk nie. Dan is daar die opsie van leë beloftes van voorspoed en gesondheid as jy vir die kerk genoeg geld gee, maar jou leierskap het hopelik te veel integriteit daarvoor.

Daar is ’n ander weg – om mense te inspireer met ’n visie wat groot genoeg is dat hulle wíl bydra! ’n Visie wat nie net groot is nie, maar relevant is. As jy nie in jou gemeenskap relevant is nie, nie besig is om ’n werklike verskil te maak in die lewe van mense nie, hoekom sal mense jou ewe skielik aanlyn relevant vind? As jou gemeente ’n tasbare impak maak op die lewe van mense sal daardie mense geneig wees om baie lojaal te wees en ander mense wat dit sien is geneig om deel te wíl wees.

Hier is ’n paar praktiese riglyne wat mense motiveer om te gee:

  • Jou visie kan groot wees, maar as niemand dit weet nie inspireer dit niemand nie. Maak seker jou gemeente en gemeenskap weet waarvoor jou gemeente haar beywer. Facebook, Youtube en Instagram is uitsonderlike platforms waarmee julle visie en werk gedeel kan word. Vind uit of jy ’n paar lidmate het wat kan help om kort video’s te skep – dalk ’n paar skoolkinders?
  • Jou visie kan groot wees, maar as dit nie plaaslik is nie voel die mense naaste aan jou dit nie. Maak seker dat jy vir jou eie gemeenskap goed sorg. Is almal in jou gemeente gevoed, geklee en emosioneel ondersteun?
  • Gee goeie terugvoer oor waarheen die geld gaan. Maak seker dat die mense wat bydra kan sien wat daarmee gedoen word en wat die impak van hulle bydrae is. Terugvoer moet altyd spreek van die grootste respek vir die mense wat hulp ontvang. Laat die terugvoer fokus op die werk wat gedoen is en die impak daarvan terwyl die identiteit van die mense wat dit ontvang beskerm word.

Die pad vorentoe gaan al hoe steiler raak vir gemeentes wat mense nie inspireer met daadwerklike, relevante bediening nie en dit gaan al hoe beter gaan vir gemeentes wat inspirerende dade uitleef. Die geheim is om nie iets te probeer verkoop nie, maar eerder om gratis so ’n groot impak te maak op ons gemeenskappe dat ander graag wil deel daarin.

Digiklesia is ’n geleentheid om saam te dink oor die geleenthede en uitdagings van digitale bediening. As deel daarvan wil ons jou nooi om ons gratis webinaar by te woon op 14 Oktober. Kom wees deel van die gesprekke en leer by kenners in die teologie, maar ook YouTube-kenners, mediaspesialiste, draaiboekskrywers en meer! Vir meer besonderhede en om in te skryf gaan na http://ngkerkpellissier.co.za/digiklesia

  • Ds Francois Lamprecht is predikant by die NG gemeente Pellissier in Bloemfontein.