Universiteit Stellenbosch
LEES OOK: Universiteit van Vrystaat se proponente
LEES OOK: Universiteit van Pretoria se proponente
Jan Coetzer is op 27 Maart 1996 gebore en het in Port Elizabeth grootgeword. Hy matrikuleer in 2014 aan die Hoërskool Pearson en begin in 2015 aan die Universiteit Stellenbosch teologie studeer. In 2018 behaal hy die graad BTh. In Desember 2019 behaal hy die graad MDiv cum laude (Ou Testament onder leiding van prof Juliana Claassens). Die titel van sy minitesis is “Die digotomie tussen Bybelse geweld en troos deur die lens van ‘Kanarie’.” Jan is opgewonde oor die bediening en het tydens sy studiejare twee poste by Stellenbosch Moederkerk gehad: Eerstens was hy die koördineerder vir junior kategese tussen Januarie 2016 en Desember 2019, wat hom in beheer geplaas het van alles in verband met die graad 1 tot 6 se kategesebediening. Tweedens was hy in 2019 die tegniese koördineerder, wat hom in beheer geplaas het van al die tegnologiese aspekte by alle kerkgeboue wat Moederkerk besit. Hy doen in 2020 sy gemeentejaar by die NG Durbanville Moedergemeente waar hy in alle aspekte van die bediening diensbaar was. Jan doen houtwerk as ’n stokperdjie om die stres van die lewe en bediening op ’n kreatiewe wyse te verwerk. Hy speel ook klavier en het gereeld in verskeie kerke se orkeste gespeel as deel van die aanbidding.
- 071 107 4234
- jancoetzer@live.com
Stefan de Klerk is op 12 September 1994 gebore en het in Mariental op ’n plaas in Namibië grootgeword. Hy matrikuleer in 2013 aan die Hoër Landbouskool Boland in die Paarl waar hy ook hoofseun was. Stefan begin in 2014 aan die Universiteit Stellenbosch teologie studeer. In 2018 behaal hy die graad BDiv. In April 2020 behaal hy die graad MDiv (Nuwe Testament onder leiding van prof Jeremy Punt). Die titel van sy minitesis is: “A man’s got to do … A rhetorical-critical reading of Romans 1:18-32 in discussion with Pauline and ancient Roman masculinity.” Stefan is iemand wat opgewonde is oor die bediening en kerkwees in uitdagende en vinnig veranderende tye soos 2020. Hy het in 2016 betrokke geraak by ‘The Human Library’ waar hy sy passie vir pastoraat en verhoudingsbou kan uitleef. Vir Stefan is leierskap belangrik. Hy het in 2015-2016 ook op die Teologiese Studentekomitee gedien. Hy doen in 2020 sy gemeentejaar by NG Bloubergstrand. Inklusiwiteit, eenheid en sorg is vir Stefan baie belangrik en hy ervaar dat die bediening in hierdie verband vir hom energie gee. Verder is Stefan baie lief vir sy motorfiets en stel hy veral in die lees en skryf van gedigte en sportsoorte soos rugby belang.
- 072 976 6915
- stefan.deklerk3@gmail.com
Hanli Groenewald is op 18 Maart 1996 in Somerset-Wes gebore. Sy woon al 24 jaar op hulle familieplaas Krabbefontein in Grabouw waar haar pa reeds die sesde geslag is wat daar boer. Hanli beloof ook hier op 19 Desember 2020 trou aan haar verloofde. Sy het in 2014 aan die Hoërskool Overberg gematrikuleer en begin in 2015 met haar reis as teoloog. In 2018 behaal sy haar BDiv-graad. In 2019 behaal sy haar MDiv-graad waar sy haar skripsie onder leiding van prof Nadine Bowers-du Toit voltooi het. In 2020 verwerf sy haar nagraadse diploma in teologie in Christelike bediening. Vir die afgelope ses jaar is Hanli by NG gemeente Grabouw betrokke en dit is dan ook waar sy vir die volgende twee jaar haar internskap sal aflê. Menseverhoudinge is vir Hanli uiters belangrik, alhoewel sy ’n introvert is. Sy glo dat geen gemeente ’n bestaan sonder hegte verhoudings tussen die lidmate kan maak nie, en die enigste manier om dit reg te kry is om verhoudings te bou. Dit is dan hierop waar Hanli haar bediening tans fokus. Hoewel Hanli tans ’n internskappos het, is sy steeds beroepbaar.
- 083 226 6333
- hanli.groenewald@gmail.com
Lionel Hutton is op 15 Maart 1994 te Pretoria gebore. Sy pa, Harold Hutton, was vir lank predikant by die NG Klipkerk op Lichtenburg, Noordwes. Met sy pa se aftrede in 2000 het hulle na Villiersdorp in die Wes-Kaap verhuis. Hier het Lionel grootgeword en laerskool in 2007 voltooi. Hy het in 2012 aan Hoërskool Stellenbosch gematrikuleer en in 2013 aan die Universiteit Stellenbosch BA Sielkunde begin studeer. Hy het egter in 2015 ’n roeping ervaar en van studierigting verander na BDiv. Hy het sy MDiv-graad in 2019 cum laude verwerf (Sistematiese Teologie) en beplan om deeltyds in 2021 ’n MTh aan te pak. Lionel het deur sy studenteloopbaan in terme van leierskap uitgestyg. Hy was sedert die einde van sy tweedejaar op Pieke manskoshuis se Huiskomitee en is in 2016 tot primarius verkies. Verder het Lionel op verskeie rade en komitees van die Universiteit Stellenbosch gedien, naamlik die Primkomitee en Matie Gemeenskapsdiens. Hy was vanaf sy eerstejaar betrokke by Moederkerk/Kruiskerk en het in 2014 die Lesotho Hoopprojek (uitreik) geloods. Hy het as Moederkerk/Kruiskerk se aksiesvoorsitter gedien, sowel as deel van die studentedagbestuur van Kruiskerk gevorm. Lionel is sedert 2014 deel van Moederkerk/Kruiskerk se kerkraad. Hy is in 2020, tesame met die voltooiing van sy gemeentejaar, as tienerleraar aangestel. Deurlopend het hy ook as koster vir Kruiskerk gewerk. Lionel en Nicola, ’n ouditeursklerk by Deloitte in Kaapstad, is in 2018 getroud. Diensbaarheid, versorging en toerusting vanuit ’n verhouding met Christus is vir Lionel die kern van sy bediening aan ander. Hy het ’n leerbare siel, ’n pligsgetroue werksetiek en ’n lus vir die lewe.
- 083 440 2928
- lionel@moederkerk.co.za
Michelle Wilma Jacobs-Smith is getroud en het twee kinders. Sy matrikuleer in 1990 aan die Hoërskool Bellville-Suid en in 1991-1992 doen sy diensopleiding by Tygerberg Hospitaal. Sy doen in 1993-1996 haar Diploma in Teologie by die Universiteit van die Wes-Kaap en voltooi in 2003 ’n MA in Ou Nabye-Oosterse Kulture aan die US. Sy ontvang in 2005 ’n Sertifikaat NQF-Vlak 5 in Professionele Ontvangs. In 2020 voltooi sy haar MDiv-graad ook aan die US. In haar werksjare het sy as verpleegster, algemene praktisyn-bestuurder en ontvangsdame by Radio Tygerberg gewerk en werk tans as geestelike werker by die Goodwood Korrektiewe Sentrum.
- 082 815 4644
- michelle.jacobssmith@gmail.com

Karlie Liebenberg is op 5 Mei 1995 in die Paarl gebore. Sy matrikuleer in 2013 aan Hoërskool Charlie Hofmeyr op Ceres en begin in 2014 aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Sy het met ’n BTh in Jeugwerk begin en skakel in haar derdejaar na die BDiv-graad oor wat sy in 2018 ontvang het. In 2020 behaal sy haar MDiv-graad (cum laude) met die skripsieonderwerp: “Van barmhartigheid na ontwikkeling: Vaardigheidintervensie van gemeenteleiers in die konteks van die NG Kerk”. In 2020 doen sy haar gemeentejaar by NG gemeente Franschhoek met ds Peet Bester as haar mentor. Karlie is passievol oor pastoraat, prediking en gemeenskapsontwikkeling. Menswaardigheid van alle mense is vir haar belangrik. Karlie hou van goeie koffie, kreatiwiteit en die plaaslewe.
- 082 676 8995
- karlieliebenberg@gmail.com
Jacobus Adriaan Maass is op 24 Junie 1995 gebore en het op Pofadder in die Boesmanland en Nieuwoudtville in die Bokkeveld grootgeword. Hy matrikuleer in 2014 aan Hoërskool Protea te Nieuwoudtville en begin in 2015 aan die Universiteit Stellenbosch teologie studeer. In 2018 behaal hy die graad BDiv. In Desember 2019 behaal hy die graad MDiv cum laude (Ou Testament met fokus op binne-Bybelse interpretasie). Die titel van sy MDiv-skripsie is: “Herinterpretasie binne die Bybel met betrekking tot Esegiël 44 en Numeri 16 – 18: ’n Eksegetiese en hermeneutiese studie”. In 2020 begin hy sy gemeentejaar by NG Kerk Swartland te Malmesbury (deeltydse leraarsverantwoordelikhede: insluitend prediking, jeugbediening, seniorbediening, belydenisklasbegeleiding, pastorale berading, Bybelstudie, kleingroepbegeleiding en barmhartigheidswerk), waar hy steeds betrokke is. Pastoraat, gemeentebetrokkenheid en Skrifgetroue bediening van die Woord lê hom na aan die hart. Dit is sy passie om ’n goeie herder vir sy gemeente te wees. Verder stel hy belang in kampeer, staptogte in die natuur, jag en veldry. Jacobus is met Jana Maass, ’n onderwyseres, in 2019 getroud.
- 083 385 2112
- jacobusmaass@gmail.com
Gerhard Meyer is op 16 Maart 1993 gebore en het op Caledon, Wes-Kaap, grootgeword. Hy matrikuleer in 2011 aan die Hoërskool Overberg en begin in 2014 aan die Universiteit Stellenbosch teologie studeer. In 2018 behaal hy die graad BDiv. In Desember 2018 behaal hy die graad MDiv cum laude (Kerkgeskiedenis) onder leiding van prof Retief Müller. Die titel van sy minitesis is: “White man in Mamelodi: Afrikaner nationalism and religion as seen in the life of Nico Smith”. Gedurende sy studiejare het Gerhard ’n aantal kere op die Teologiese Studentekomitee (TSK) gedien, in die portefeuljes van spiritualiteit en voorsitter onderskeidelik. In 2019 werk hy as jeugwerker te NG Moedergemeente Kraaifontein en voltooi in 2020 sy gemeentejaar by Kopanong (Bloemfontein Studentekerk), waar hy volledig in alle aspekte van die bediening diensbaar was. Deernis, empatie en liefde vir die weerlose en verlate is vir Gerhard baie belangrik en dit vorm die kerndeel van sy roeping en bediening. In sy vrye tyd geniet Gerhard dit om by kulture anders as syne te leer en mense te leer ken, om te lees, te skryf en te stap.
- 078 107 7154
- petrusgerhardm@gmail.com
Philippus Johannes Lodewyk (Philip) Olivier is op 5 Oktober 1979 in Pretoria gebore. Hy het in 1998 op Aliwal-Noord in die Oos-Kaap gematrikuleer, waar hy ook sy eerste werk as Wimpy-restaurantgroepbestuurder ingeneem het. Gedurende 2002 verhuis Philip terug na Pretoria en begin werk by Safari tuin- en funksiesentrum in die ooste van Pretoria as spysenier, funksiekoördineerder en kombuisbestuurder. Hy begin met sy teologiese studies by die Afrikaanse Protestantse Akademie in 2004 terwyl hy deeltyds werk en voltooi die studiejare in 2011 na ’n twee jaar breuk tussen die BA- en BTh-grade. In die breuk werk hy in Oos-Londen vir True Group/Real People op verskeie projekte en gebou-onderhoud. In 2008 keer Philip terug om sy studie te voltooi. In 2011 voltooi hy sy BTh-graad met die skripsietema: “Die voorgeskiedenis van die Nuwe Calvinisme en ’n dogmatiese beoordeling van hierdie kontemporêre denke” onder leiding van prof R Maré. In 2012 word hy as leraar van die Afrikaanse Protestantse Kerk Groblersdal beroep en bedien hierdie gemeente tot 2014. Gedurende 2018 skryf Philip in by Universiteit Stellenbosch om sy MDiv-graad te doen en voltooi die studie in 2019 onder leiding van prof Christo Thesnaar. In 2020 begin Philip sy gemeentejaar en voltooi die Nagraadse Diploma in Teologie. Hy het sy prakties in NG gemeente Clanwilliam gedoen waar hy in alle aspekte van die bediening diensbaar was. Gedurende hierdie tydperk leer ken hy mense, die binnewerking van verskillende areas van gemeentebediening, ervaar daaglikse geestelike groei en ontwikkel ’n beter verstaan van noodsituasies as gevolg van die Covid-19-pandemie. Hy is ’n passievolle mens wat sy mede-gelowige en ongelowige broers en susters lief het.
- 076 668 0126
- polivier04@gmail.com
Tiaan Pretorius is op 11 Mei 1992 gebore en het op Porterville grootgeword. Hy matrikuleer in 2010 aan Hoërskool Porterville. Hy begin in 2011 aan die Universiteit Stellenbosch jeugwerk studeer. In 2013 behaal hy die graad BTS. Leierskap maak hom opgewonde en hy dien in 2014 op Eendrag, ’n manskoshuis aan die US, se huiskomitee. Hy beklee die portefeuljes kultuur, erfenis en gemeenskap. In 2015 behaal hy ’n Nagraadse Onderwyssertifikaat en spesialiseer in die vakke: Lewensoriëntering, Geografie en Religieuse studies. In 2016 dien hy as jeugwerker op die kerkraad van NG gemeente Nelspruit-Suid. In 2017 behaal hy die Nagraadse Diploma in Teologie saam met Grieks en Hebreeus 1 en 2 in 2018. In 2019 behaal hy die graad MDiv. Die titel van sy minitesis was: “Pastorale versorging aan volwasse individue met ADHD: ’n Prakties-teologiese ondersoek” onder leiding van prof Christo Thesnaar. Hy doen in 2020 sy gemeentejaar by NG gemeente Paarl-Vallei waar hy aan al die aspekte van die bediening blootstelling gekry het. Die jeugbediening, lering, prediking en pastoraat is waarin hy belangstel as deel van sy roeping.
- 072 547 8589
- tiaanpre11@gmail.com
