VIDEO: Ma vertel wat 18 jaar lank bid dat seun nuwe longe kry

Anna-Mart van der Merwe, maatskaplike werker en traumabera­der in die Breëriviervallei, moes in 1997 hoor haar driejarige seun­tjie het ’n oorerflike en ongeneeslike siekte. Twee en twintig jaar later het ’n tragedie sy lewe gered.

Toe die verdoemende diagnose kom dat klein Andries aan sistiese fibrose* ly en dat sy lewensverwagting maar 12 jaar is, het sy ma se geloofspad met God opnuut begin. Anna-Mart het vroeg besef dat hulle as gesin voluit moet lewe. Dat gehaltetyd belangriker as die hoeveelheid tyd is.

LEES OOK: ‘Dít dra my deur ons kind se kanker’

Maar Andries het toe veel ouer as die verwagte 12 jaar geword. In 2019, toe hy 25 jaar oud was, het hy ’n dubbele longoorplanting ondergaan. Dié oorplanting was moontlik nadat Storm Smorenburg van Riversdal, op pad skool toe met ’n skaatsplank, verongeluk het. Dit was Storm se longe wat in Andries oorgeplant is.

“Dit was verskriklik om my kind só te sien,” vertel Anna-Mart van der Merwe oor haar seun Andries voordat hy ’n dubbele longoorplanting ondergaan het. “Hy kon net 100 meter ver stap, dan moes hy gaan sit. Hy was so bleek. Hy wou net lê, hy wou nie eet nie.

“Alhoewel hy deurentyd gesê het hy wil nie suurstof hê nie omdat suurstof ’n mens se longe swakker maak, het hy my op 22 Augustus 2019, sesuur daardie Donderdagoggend, gebel en gesê hy kan nie meer nie. Hy gaan suurstof aanvra.

Byna twee jaar ná sy dubbele longoorplanting werk Andries van der Merwe as hoofsjef by die Hygge Hygge-restaurant in Stellenbosch. Die eienaar van die restaurant ly, net soos Andries, aan sistiese fibrose. Andries moet vir die res van sy lewe anti-verwerpingsmedikasie gebruik. Hy ondergaan weekliks bloedtoetse. Foto verskaf

“Sy dokter het vir hom gesê dat hy die naweek in die bed moes deurbring en dat hy eers moes wag. Hy kon die Maandag die suurstof ontvang. Hulle het nog op toetsuitslae gewag.

“Daardie oggend 7:45 het Storm Smorenburg, op pad na die eksamenlokaal by Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal, met sy skaatsplank geval.

“Die Vrydagaand 10:00 het Andries met die nuus gebel dat hulle die perfekte longe vir hom gekry het. Sy woorde was:

‘Mamma, ons is ’n match. My operasie is sesuur Saterdagoggend, 24 Augustus 2019.’

“Die Here het op die laaste minuut voorsien. Dít is hoe getrou God is.”

Anna-Mart vertel: “Ek het van die jaar 2000 af begin om vir daardie familie te bid wie se geliefde die oorplant-longe vir Andries sou voorsien. Ek het gebid dat dit ’n jonger persoon moes wees. Iemand wat reeds die wêreld gesien het. Dat dit ’n geliefde mens moes wees, want ons sou graag die familie wou ondersteun.

“Sy dood was ’n groot tragedie. Maar sy ma, Lisa Smorenburg, het vir my gesê: ‘Anna-Mart, toe Storm gebore is, het dit vir my gevoel ek maak hom vir iemand anders groot.’

“Hierdie woorde het my getroos. Dat sy dit geweet het, het my getroos. En tot vandag toe het ek en Lisa ’n goeie ver­hou­ding. Lisa besef haar seun het gesterf sodat ander kan leef. Nie minder nie as sewe ander mense se lewe is deur sy dood gered. Storm se geskenkte organe was die gebedsverhoring van sewe ander mense.”

“Elkeen van ons moet ’n storie leef. ’n Storie van hoop. Moenie moed opgee nie.

LEES OOK: Kankervegtertjie se droom word waar

“Ek het 18 jaar lank gewag voordat God vir Andries nuwe longe gegee het. Ek het in Julie 2001 vir die eerste keer gebid: ‘Here, voorsien asseblief longe.’ Dit was toe Andries amper dood is.

“Min het ek geweet dat God op daardie einste dag voorsien het. Ek het 18 jaar later eers gehoor wat Storm se geboortedatum is. Toe ek in my joernaal gaan kyk, was dit die presiese datum waarop ek vir die eerste keer vir longe vir Andries gebid het.

“Die Here voorsien. Op die regte tyd sal God vir jou ook sê: ‘Hier is Ek!’”

* Sistiese fibrose is ’n siekte wat ernstige skade aan die longe, spysverteringstelsel en ander organe in die liggaam veroorsaak deurdat dié toestand die liggaamselle beïnvloed wat slym, sweet en verteringsappe produseer.

  • Anna-Mart het onlangs ’n boek, Stilte voor Storm, oor haar geloofspad geskryf. Kyk die video by lig.co.za
Word 'n vriend van Kerkbode