Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

BOEKBESPREKING: Gayverbintenisse – uitweg uit die vasgelooptheid

Ek en dr Talbot Sadler het ’n stuk of twee dekades gelede in ’n stormagtige tyd in die NG Kerk (soos dit nou weer is) saam in die moderatuur van die Algemene Sinode gedien – hy as aktuarius, ek as skriba. Ek het baie waardering vir dié regsgeleerde (hy was eers ’n prokureur) en predikant. Daarom het ek sy boek, Gayverbintenisse – uitweg uit die vasgelooptheid (Barnabas-uitgewers, 2022) met groot belangstelling gelees. Ek stem met baie wat hy in die boek skryf, saam. En verskil ook heelwat.

Sien ook: Koop die boek aanlyn 

Talbot wil ’n uitweg vind uit die “vasgelooptheid” waarin die Algemene Sinode oor die gay-“kwessie” beland het. Met die uitweg wat hy aan die einde van sy boek aandui, sal min gelowiges verskil: Jesus is die antwoord! Net deur Jesus volkome as Middelaar te aanvaar sodat Hy ook in hierdie saak kan “bemiddel”, is daar ’n uitweg. Dit beteken ook dat beide “kante” in die gesprek oor gay-verbintenisse – die sogenaamde “pro-gays” en die “anti-gays” – volgens Sadler hulle standpunte sal moet versag. Die “pro-gays” sal moet aanvaar dat, volgens die Bybel, die huwelik as instelling van God slegs bedoel is vir mense van teenoorgestelde geslagte, en nie vir mense van dieselfde geslag nie. En die “anti-gays” sal moet aanvaar dat gay-mense so gebore is, dat dit nie ’n keuse is nie, en dat gay-wees as sodanig nie sonde is nie.

Sowel die pro- as die anti-gays sal probleme hê om te aanvaar dat die “sagter” standpunt sonder meer “die Bybel” se verwagting is. Enersyds omdat die huwelik, soos ons dit ken, ’n eeuelange ontwikkeling in die Bybel gehad het (Abraham, vader van die gelowiges, was ’n poligamis …) en dat die Bybel vroeër anders daaroor praat as later, en andersyds omdat die anti-gays waarskynlik daarop sal aandring dat gay-wees neerkom op ’n keuse – en dat die Bybel se sewe tekste oor selfdegeslagseks dit duidelik sonde noem.

Lees ook | Persverklaring (2019): Selfdegeslag-verhoudings

Sadler self meen ook dat die Bybel selfdegeslagseks as sonde veroordeel (sonder dat hy die “sewe tekste” enigsins onder die loep neem), maar skryf dan dat Jesus se barmhartigheid en liefde teenoor alle mense uiteindelik deurslaggewend is. Hy skryf ook: “In die Bybel gaan dit nie regtig om die Bybel nie, maar om Jesus Christus van wie die Bybel getuienis lewer.”

Terwyl dit steeds die standpunt van die Algemene Sinode is dat die huwelik net vir mense van teenoorgestelde geslagte bedoel is, is dit nie op die lange duur ’n volhoubare standpunt nie. Deur ’n trouverbintenis tussen mense van dieselfde geslag te erken (wat die Algemene Sinode gedoen het, al was dit ’n bietjie binnensmonds), kan jy kwalik daaraan ’n minderwaardige status gee deur dit nie as ’n huwelik – met al die voorregte en eise wat daaraan verbonde is – te erken nie. Die vraag is of ’n lewenslange verbintenis “in liefde en trou” van twee hetero- of homoseksuele mense, in die oë van Jesus Christus in beide gevalle iets anders as ’n ware huwelik is?

Sadler het heelwat kritiek op die uitspraak in die Hooggeregshofsaak tussen 12 lidmate en die NG Kerk. Sommige van sy opmerkings in dié verband is geldiger as ander. Ongelukkig hanteer hy net die uitspraak en gee nie aandag aan die stukke wat die twee partye aan die hof voorgelê het nie – woord en weerwoord – en ook nie aan die erge voeteslepery van die Taakspan Regte wat die lidmate uiteindelik gedwing het om die hof te nader nie. Die siening van die NG Kerk in hulle voorlegging dat die “pro-gay”-besluit van die 2015-Algemene Sinode nie ooreenstem met die Bybel (en God se wil) nie, maar dat die “anti-gay”-besluit van 2016 dit wel doen, word ook nie deur Sadler bespreek nie. Albei sinodes het tog baie ernstig na die Here se leiding gesoek! Hy gee ook nie aandag aan die stelling van die huidige aktuarius in die stukke dat, indien die beswaarde lidmate nie die 2016-besluit van die Algemene Sinode kan aanvaar nie, hulle welkom is om elders ’n kerk te gaan soek wat met hulle siening saamstem! – Dit terwyl die beswaarmakers steeds die pro-gaystandpunt wat die Algemene Sinode pas ’n paar maande vroeër gehuldig het, ondersteun.

Lees ook: ‘n Versameling van skrywes oor die gay-debat

Op die ou end meen Sadler dat die “Gaum-saak”, soos hy dit noem, nooit moes gewees het nie. Maar op ’n vorige bladsy vertel hy van die lesse wat die kerk uit die hofsaak geleer het. Die grootste les, skryf hy, is: “Moenie teen mense diskrimineer nie, wie hulle ook al mag wees. Dit is terselfdertyd ook ’n goeie Christelike beginsel”. Einste, sê ek.

Die tweede les uit die hofsaak is, volgens Sadler, “dat die kerk met baie groter erns daaraan moet werk om die posisie van homoseksuele mense in die kerk te normaliseer”. Weer eens: Einste!

As dít die lesse is wat die NG Kerk uit die hofsaak geleer het, was dit oor en oor die moeite werd. Die hofsaak het dus gehelp dat die NG Kerk die evangelie van Jesus Christus ’n bietjie beter kon leer verstaan. Nie dat die 12 lidmate wat hulle tot die hof gewend het, dit graag wou doen nie. Inteendeel, hulle het daarmee geworstel en daaroor gebid. Maar die wyse waarop die Taakspan Regte hulle deurentyd doof gehou het en nagenoeg sewe waarskuwings in die wind geslaan het, het vir die “12” op die ou end geen keuse gelaat nie. Sadler skryf dat “hofsake haglike goed is om kerksake mee te besleg”, en dat “kerksake op kerklike wyse hanteer moet word”. Reg so … maar as die kerk dekades lank nie daarin slaag om sake kerklik tot ’n punt te bring nie, en mense in die proses aanhoudend verontreg word, kan die hof (soos dit nou gebeur het) die kerk selfs help om die evangelie beter te verstaan.

Sadler skryf ook oor die koste van die hofsaak. “As al die advokate se rekeninge ten volle (deur die kerk) betaal moes word, moes dit ’n aardige bedrag beloop het”, meen hy, want die hofsaak is met koste vir die kerk deur die 12 lidmate gewen. Ek het goeie nuus vir Talbot. Jeremy Gauntlett, SC QC, die “12” se senior advokaat, het persoonlik niks van die NG Kerk gevra nie (ek weet nie wat die kerk vir hulle eie advokate moes betaal nie). Dit is van Gauntlett dat Sadler skryf: “Toe hy die bal kry, het hy soos ’n wafferse Danie Gerber deur die gaping gegly en sy ‘drie’ aangeteken … Wat die (skeids)regters nie gesien het nie, was dat daar ’n vorentoe-aangee was.” Nee, Talbot, die bal was toe nie vorentoe aangegee nie. Gauntlett se drie was vyf punte werd. En toe ook nog die doelskop, want die NG Kerk het nie teen die ondubbelsinnige uitspraak geappelleer nie …

  • Dr Frits Gaum is ’n voormalige redakteur van Kerkbode.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top