Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Rammelgedagtes van onderwyser / teologiestudent

Hierdie skrywe is deel van Kerkbode se nuwe gespreksforum vir teologiese studente. Hierdie afdeling is in ’n toetsfase. Bydraes word nie voor publikasie deur Kerkbode se proefleser versorg nie.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.


Daar is dertig koppe met groot oë wat na jou kyk in die klas. Jy het 5 minute in die oggend en dalk 15 minute elke 4 weke om te preek in die saal (ja ons mag nog).

Is hierdie 5 minute elke oggend nie die belangrikste 5 minute van die kinders se lewe nie, en dalk die belangrikste 5 minute vir jou as Christen onderwyser?… Maar wat sê jy? Deel jy die werk uit en kry ’n vinnige “elke kind lees en bid” lessie sodat jy dit net verby kan kry, of doen jy moeite?

LEES OOK: Nog studentebydraes

Indien die tweede, hoe doen mens moeite? Hoe sê jy iets as onderwyser wat nog nie eens dertig jaar op aarde is nie, wat kinders op geestelike vlak “vol” maak? Of dalk in ewigheid beïnvloed? (Soveel “krag” het ek myself gegun).

Hierdie is die vrae wat ek mee geworstel het. My onderwys studies het my nie geleer hoe om ‘n holistiese kind in die wêreld in te stuur nie (besef ek baie vinnig); sielkundig dalk, liggaamlik defnitief (solank jy rugby speel), maar geestelik? Glo dit of nie, ons kinders is geestelik honger vir leiding.

Dit is waar die studies van die NGDip in Teologie ‘n groot rol gespeel het, of moet ek meer sê, dit is waar God DIE rol gespeel het. Ek het hierdie vrae se antwoorde baie duidelik ontdek in gereformeerde teologie.

Die voorsienigheid van God (soos in N.G.B art. 13) en die uitverkiesingsleer (soos in N.G.B art. 16) bied vir my gewete vrede in die feit dat dit nie ek, maar God is wat Sy kinders roep (Dankbaar dat die krag nie meer by my lê nie). Gepaard met hierdie het die ander vakke my nuwe verantwoordelike maniere geleer om die Bybel te lees en dit wat ek waarneem uit te beeld in ‘n preek.

KERKBODE: SELF ’n STUDENT? SKRYF VIR ONS?

Daar het ’n duidelike paradigmaskuif plaasgevind in my as onderwyser, selfs as mens. Ek wou holistiese-gesonde kinders in die wêreld in stuur, dit was die droom, maar ek het gevind dat God eers ’n holistiese-gesonde onderwyser nodig gehad het (hoe toevallig, of is dit voorsienig?). Gereformeerde teologie het vir my ‘n nuwe honger gegee om in my werksplek die evangelie aan te bied. Deur dit ervaar ek ook soveel meer werksvreugde en werksvrede.

Raad aan persone wat dink om in hierdie studierigting te gaan: dit is ‘n onophoudende pad wat jy stap saam met God wat elke deel van jou gedagtes oorneem. Dit is die grootste voorreg – om Hom te ken. Ek is ewig dankbaar vir die plek waar ek was, op die tyd waar ek was, in die omstandighede waar ek was, om gereformeerde teologie te ontdek, om God opnuut te ontdek en hierdie onophoudende pad te stap saam met Hom.

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.