Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Betereinder | Lees dié boek met nederigheid en baie selfondersoek

Lees dié boek met nederigheid en baie selfondersoek

Betereinder, wees die verskil deur Schalk van Heerden

Uitgewer: Lux Verbi, 2023

Resensent: Dewald Niemandt

 

“Daar bestaan nie meer iets soos ’n goedkoop behoort nie …” Van Heerden is eerlik. Oor die land, oor die kerk en oor homself. Dit is die eerste ding wat my van hierdie boek getref het.

Betereinder is nie ’n A-Z van Schalk van Heerden se lewe nie. Dit is eerder ’n versameling refleksies, inleidings, uitdagings, oproepe en bemarking vir beter eindes, maar ook vir beter noue.

Slim, snaaks, hartverskeurend, uitdagend, verrykend … Van Heerden weet hoe om ’n avontuur te maak van die lewe in Afrika. Met sy sin vir humor, menslikheid en onvergeetlike manier om met woorde te speel, gee hy vir lesers hierdie versameling staaltjies, insiggewende, agter-die-skerms blikke op sy lewe en roeping.

LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Schalk van Heerden en die brûe wat hy bou (2020)

In die Suid-Afrikaanse konteks is die kulturele debatte oor ras en versoening dikwels ingekleur deur ’n warboel van emosie en onkunde. Die Afrikaanse kerke se rol (en afwesigheid) in hierdie gesprekke, is dikwels ’n aanduiding van ons onkunde van hoe om in ons multikulturele samelewing, met ons komplekse geskiedenis, saam te leef. Hier gee Van Heerden deurleefde ervaring van wat dit beteken om met radikale openheid teenoor ‘die ander’ te leef.

Uit sy diep wysheid en oomblikke van dwaasheid, is daar soveel lewenslesse vir blanke Afrikanergelowiges oor hoe om deel te neem aan die gemeenskaplike Suid-Afrikaanse lewe.

Die boek kom wel met ’n warning-label. Nie almal is al reg vir hierdie reis nie. Maar wanneer jy is en jy dit respekvol en noukeurig lees, met ’n oop gemoed en ’n oop hart, met ’n tikkie nederigheid en baie selfondersoek, kan dit lei na bevrydende en vrugbare gesprekke. Van Heerden daag ons uit om nie net te verval in ’n apologetiese postuur nie. Hy leef self die weg oop en nooi ons om die pad saam te stap.

My voorstel is: “Pak die boek aan as ’n gids vir groei,” soos Van Heerden self sê: “Betereinders is nie bitter nie. Ons kan beter, Ons word beter …”

  • Beskikbaar by NB-uitgewers.
  • Ds Dewald Niemandt is leraar by NG Bryanston.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top