Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Skrywers begelei lesers kundig deur die kernbewegings in Jesus se lewe

Ons wil Jesus sien deur Coenie Burger en Marius J Nel

Uitgewer: Bybel-Media, 2022

Resensent: Mardi Badenhorst

In Ons wil Jesus sien, gebruik Coenie Burger en Marius J Nel die verskeie stasies van Jesus se lewe, naamlik sy geboorte tot en met sy hemelvaart (en selfs beloofde wederkoms), om gelowiges te help om ’n getuienis en belydenis oor Jesus Christus te ontwikkel.

Die skrywers kry dit reg om die leser op ’n reis te neem deur die kernbewegings in Jesus se lewe en uiteindelik terug tot in ons eie wêreld en tyd, bemagtig met ’n toeganklike en hedendaagse Christologie. In die hoofstuk “Daar is meer aan Jesus”, lees jy “Jesus kom om ons met die lewe te help”. Dit word in elke stasie van Jesus se lewe en bediening duidelik. Die algemene (wan)oortuiging dat Jesus ons slegs deur sy dood aan die kruis kom verlos en met God versoen, word deeltjie vir deeltjie in hierdie boek as onwaar en onvoldoende bewys.

Vir die gemiddelde predikant bevat Ons wil Jesus sien nie noodwendig “nuwe” inligting nie. Dit neem egter nie daarvan weg dat hierdie boek ’n uitstekende hersiening is van alle aspekte van Christologie nie. Wat méér opwindend (en noodsaaklik) is, is die manier waarop taalgebruik en beelde ingespan word om ’n Christologie so bondig en toeganklik te skryf, dat enige gelowige of nuuskierige dit sal kan optel en verras word deur Jesus se allesomvattende verlossingsbediening. Jesus red ons met sy hele lewe en daarom moet ons sy hele lewe bestudeer en ontdek.

Grieks en Hebreeus, kerkgeskiedenis en hermeneutiek word nie gebruik om te intimideer of af te skrik nie, maar om verantwoordelik en uiters kontekstueel en intensioneel na die stasies van Jesus se lewe te kyk. Elke stasie word telkens in verband gebring met ons lewe (sonder om te vergeestelik of onverantwoordelik toe te eien) deur in elke hoofstuk ’n toepaslike vraagstuk in die lewe te bespreek, byvoorbeeld “Jesus se aardse lewe en bediening – en ons gesukkel met die lewe”.

Groot waardering kan teenoor hierdie skrywers uitgespreek word vir ’n fantastiese produk, vanuit die akademie, om die misterie en wonderbaarlikheid van Jesus se lewe nie te probeer weg verduidelik nie, maar dit eerder te bevestig en begrond. Om ’n boek beskikbaar te maak wat ’n studie maak van die historiese Jesus, en gelyktydig die wonderbaarlike Seun van God, is ’n geskenk vir elke gelowige van ons tyd!

Beskikbaar by Bybelmedia.


Ds Mardi Badenhorst is predikant by die NG Kerk Carnarvon.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top