Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Kerkmusiek: Dit is maklik om kerke in een van hierdie twee wye, algemene kategorieë te plaas: tradisioneel óf modern.
Dr Zander van der Westhuizen (agter klawerbord) het ’n lied geskryf en gekomponeer vir die 2023 Algemene Sinode. Al het hulle robuuste gesprekke om die tafels oor die temas van die sinode, kom hierdie lied elke keer in sy gedagtes op, skryf Estian Mentz. Foto: Skermgreep

Stemme by die sinode: ‘Dié lied bied iets tasbaar om aan vas te hou in moeilike gesprekke’


Sondagoggend ry daar so ’n paar van ons vanuit Kimberley, die bakkie se neus is gedraai na Johannesburg en ons wonder, droom en gesels oor alles wat hierdie week gaan gebeur en wat vir ons voorlê. Ons gesels lang stories met mekaar en uiteindelik stop ons by die konferensiesentrum in Boksburg waar die 18de Algemene Sinode gaan plaasvind dié week.

Die week begin Sondagaand met ’n besondere erediens onder leiding van prof Nelus Niemandt. Maandagoggend gaan die werk, die gewoel en gesels begin.

Hierdie is my eerste keer by ’n Algemene Sinode, en ek is tot daardie oomblik wat die vergadering open nog onseker of ek opgewonde, angstig of vol vrees moet wees oor wat kom.

Dan tref die musiekspan ons met ’n lied, onder leiding van dr Zander van der Westhuizen se talentvolle oog en hand, ’n sinodelied. Spesiaal geskryf en gekomponeer vir hierdie sinode. Êrens maak ek die opmerking dat ons die lied sal moet opneem en vrystel in die kerk, al kos dit wat …

Dié lied is rigtinggewend vir my eie emosies, en ek glo ook so baie ander van die sinodegangers. Getitel: ‘Sal U saam met ons gaan?’ spreek die lied geskryf deur Van der Westhuizen die noodkreet van hierdie sinode aan. Uit die sinodeteks uit Eksodus 33 en Miga 6 kom hierdie eenvoudige bekende woorde en note bymekaar in ’n nuwe lied om alles saam te vat en vir ons ’n tasbare ‘iets’ te gee om aan vas te klou tydens die moeilike gesprekke wat reeds tydens die sinode gebeur het en nog moet gebeur.

“Ons wil doen wat reg is, ons wil liefde bewys …”

Sover beleef ek dit as die gees van die sinode, al verskil ons met mekaar. Al het ons robuuste gesprekke om die tafels oor die temas van die sinode, kom hierdie lied elke keer in my gedagtes op.

Mag ons as kerk, as gelowiges, as familie in Christus altyd wil doen wat reg is, en wil liefde bewys, omdat dit eerste aan ons bewys is.

  • Ds Estian Mentz is leraar by NG Gemeente Kimberley-Harmonie. 
  • ** Die berig is deel van ’n reeks getuienisse uit die sinode.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.