Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Nico Smit van Dalpark skryf:
Ons hou so ’n week of twee gelede Algemene Sinode in die NG Kerk.
Dit is die NG Kerk se 18de Algemene Sinode. Dis my vierde Algemene Sinode. En my tweede as verslaggewer vir Kerkbode wat vir my ’n reusevoorreg is om my skrywersliefde te mag uitleef en saam met ander te beleef.
Ek beleef die sinode as geweldig positief. Baie het gesê dat 2023 se sinode dié maak of breek sinode sal wees waar baie dit “quits” gaan “call”. Ek het dit nie so beleef by dié sinode van 2023 nie.
En ek besef in my een aand se huis toe ry dat ons sekere goed “quits” moet “call”.
In gewone Afrikaans beteken “quits call” om met iets op te hou of om met iets te stop. En dit is wat ek en jy moet doen. Ons moet dit “quits call”. Wat probeer ek sê? Suid-Afrika, ’n land van ’n ryk kultuur en ’n diverse bevolking, het oor die dekades deur baie uitdagings gegaan.
Terwyl daar sonder twyfel ernstige probleme in ons samelewing bestaan, is daar ’n dringende behoefte om ons fokus te skuif na ’n positiewe benadering om hierdie uitdagings aan te pak. Dit is tyd om te besef dat kla nie die antwoord is nie.
Ek wéét dat ons elkeen ons eie trauma of seer het – goed wat ons dalk swaar saamdra uit ons verlede. Ek werk die meeste dae saam met mense in hulle seer, maar ons moet begin om die glas half vol te sien, eerder as half leeg. Of dankbaar te wees dat ons wel ’n glas het.
As jy vandag ’n dak oor jou kop het, ’n kombers oor jou lyf het en kos in jou maag het dan is jy van die rykste mense in die wêreld. Ons moet dit “quits call” om die heeltyd te kla oor dit wat ons nie het nie.
My tweede gedagte is dat verandering in onsself begin. As jy nie die wil het om te verander nie, sal jy nooit verander nie. Dit is in alle aspekte van die lewe so. Dit is in jou geloof, jou huwelik, jou ma- of pa-wees. Verandering begin diep in ons hart, saam met God as Voorganger.
My derde gedagte is dat ek en jy die voorreg het om Christus te ken. En dit bly die grootste voorreg van alles. Dit laat my dink aan die teks in Johannes waar Natanael vra: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” Dit is ’n verwysing na Jesus. En dan sê Filippus dat Natanael moet kom kyk … dáár is iets uit goed uit Nasaret! Jesus, die lewende Here!
Ons kan dieselfde vraag oor Suid-Afrika vra. Kan daar uit ons land iets goed kom? Ja, as ek en jy ín Christus is dan is daar baie wat uit hierdie land kan kom. Ons is die liggaam van Christus.
So mag ons sekere goed “quits call” en dankbaar wees dat ons in Christus mag en kan leef. Dat ons sy kinders mag wees. Mag ons dit “quits call” om te dink ons is nie waardig genoeg om kind van God genoem te word nie en verandering te kan bring nie.
Ek het die 18de Algemene Sinode as ’n plek van positiwiteit gesien én beleef.
- Dr Nico Smit is ’n Kerkbode-medewerker.