Pas nadat die 97ste sinodevergadering van die NG Kerk in KwaZulu-Natal (KZN) op 4 Junie gekonstitueer het, het die uitgaande moderamen die vloer geneem om verslag te lewer oor hulle dienstermyn. Lambert Jacobs doen verslag uit Pietermaritzburg.
Dr Heinrich Theunissen van Newcastle-Bergsig was die vorige moderator en het die verslag aan die afgevaardigdes by die sinode voorgehou.
Dit was amper ondenkbaar dat soveel gebeurlikhede in een termyn kon plaasvind in een van die NG Kerk se tien sinodale gebiede.
LEES OOK: Nuusbrokkies oor die sinodevergadering via POSDUIF
Die tweede golf van Covid-19 het hulle nog getref. Twee vloede wat rampafmetings aangeneem het, het die gebied geruk. En dan was daar boonop die politieke onrus wat Gauteng en KZN die swaarste getref het.
Soveel chaos
Hoe herstel ’n provinsie na soveel chaos en wat doen ’n kerk wat eintlik getallegewys maar ’n druppel aan die emmer is wanneer die een krisis na die ander opduik? Theunissen het dit duidelik gestel dat indien die NG Kerk in KZN dalk in ’n groef was, hulle beslis blitsvinnig daaruit geruk is.
Die provinsie is destyds in vier streke verdeel en ’n hulpfonds is inderhaas op die been gebring. NG predikante is as kommunikeerders en koördineerders aangewys met die oog op hulpverlening.
Theunissen was vol lof vir die res van die land se hulp en ondersteuning met fondse en voorrade wat na KZN gestuur is.
Met die vloede is baie infrastruktuur vernietig. Dan ontstaan die teenstelling dat jy soveel water het, maar jy het geen water in die krane nie! Daar is fondse losgemaak dat gemeentes boorgate kon sink waar mense vanuit die hele gemeenskap kon tap.
Plunder en boorgate
Gemeentes in Margate en Scottburgh het hulle boorgate volledig opgegradeer met sonpanele om ook die kragkrisis te bowe te kom.
Met die plundering kon mense en besighede aansoek doen om hulp. Die aansoeke is weekliks deur die taakspan beoordeel. So is mense met spazawinkels byvoorbeeld gehelp om weer op die been te kom.
Dit lyk beslis of die vorige leierspan in KZN genoeg gedoen het om vir twee termyne te tel!