Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

By die moderatuurstafel is ds Pieter Grobler, prof Barry Tolmay, ds Lerisa Meyer en ds Pieter Swanepoel.

Streeksinode: Ervaring en jeug neem leisels in KZN + Groeteboodskap van Jan Lubbe uit Bloem


Toe stemtyd aanbreek het afgevaardigdes gekies vir ’n goeie dosis bewese ervaring gekombineer met genoeg nuwe bloed, berig Lambert Jacobs. 

Die 97ste sinodevergadering van die NG Kerk in KwaZulu-Natal (KZN) het op 4 Junie in Pietermaritzburg gekonstitueer. Die vergadering vind by die sinodale sentrum plaas wat deel vorm van die NG Gemeente Hayfields se fasiliteite.

Soos gewoonlik was die verkiesing van ’n nuwe leierspan vroeg op die tafel. Die afgevaardigdes kom vanaf die voetheuwels van die Drakensberg in plekke soos Kokstad en Matatiele tot bo teen ons buurlande Mosambiek en eSwatini in dorpe soos Pongola en Jozini en van die ooskus af in die Durban-metropool en Richardsbaai tot by plekke wat raak-raak aan die Vrystaat soos Bergville en Winterton.

LEES OOK: POSDUIF se beriggewing vanuit KwaZulu-Natal

Prof Barry Tolmay en ds Lerisa Meyer.

Toe stemtyd aanbreek het die sinode gekies vir ’n goeie dosis bewese ervaring gekombineer met genoeg nuwe bloed. Die verkose moderator, prof Barry Tolmay van Krantzkloof, het al op feitlik al die stoele by die moderatuurstafel gesit. In die week na die dramatiese verkiesingsuitslae in KZN het ’n mens in gedagte geroep dat Tolmay met ’n Honneursgraad in Internasionele Politiek spog en dat een van sy doktorsgrade juis gehandel het oor die NG Kerk se pad met Apartheid.

Die nuwe assessor is ds Lerisa Meyer, oud-Tukkie en predikant van Margate. Sy is getroud met Handré, ook ’n opgeleide predikant.

VIDEO: Jan Lubbe se boodskap aan NG Kerk in KZN | Bron: Posduif

LEES OOK: POSDUIF-beriggewing

Die aktuarius, wat vir ’n volgende rondte na die kerkregsake moet omsien, is ds Pieter Swanepoel van Greytown, een van KZN se oudste gemeentes met ’n stigtingsdatum van 1859! Swanepoel is al vir jare hoof van die Greytown-kinderhuis.

Die skriba het tydens die vorige termyn oorgeneem en is herkies vir die rol. Die persoon vir dié – dikwels onbenydenswaardige – taak is ds Pieter Grobler van Scottburgh, iemand wat net soos sy oupa Hansie, pa Hennie en oom Paul Grobler, weet hoe lyk diens aan die kerk.

Twee sekunduslede is ook vir die moderatuur aangewys. Hulle is dr Francois Neethling van Durban-Oos en ds Elise Klut van Winterton.

 


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.