By die sinodevergadering van die NG Kerk in KZN wat van 4 tot 6 Junie in Pietermaritzburg plaasvind, is een van die grootste sake op die agenda die belang van omgewingsbewaring. En dan veral die kerk en gelowiges se rol daarin, berig Lambert Jacobs.
Met die gereelde vloede die afgelope paar jaar in KZN en ’n tornado wat die middag voor die sinode deur die noordelike stadsgebiede van Durban getrek het, is dit geen verrassing nie dat klimaatsverandering en ons roeping ten opsigte van die omgewing hoog op die agenda vir hierdie sinode is. En tog kon die kerkleiding hier ook maar die dringendheid daarvan geïgnoreer het.
Maar, nee, daar is gereël vir verskeie tafelgesprekke en videogrepe en Zoom-onderhoude met verskeie kundiges om insette vir die sinodegangers te lewer. Een van hulle was prof Christo Lombaard van die Departement Praktiese Teologie en Missiologie aan die Fakulteit Teologie by die Universiteit van Pretoria (UP). Lombaard het met groot trots gespog dat hy op Dundee gebore is en in Durban grootgeword het en daarom deel voel van die KZN-sinode.
Op dag een het Lombaard gepraat oor “Eenvoud en veelvoud” en op dag twee oor “Veel fout en geloofsbehoud”. ’n Mens sê graag dat eenvoud lei tot diepgang. Maar Lombaard waarsku dat die teenoorgestelde waar is van ’n liggaam en ook die ekologie. Hy sê in sy aanbieding: “’n Menslike liggaam waarvan die verskillende dele afsluit, is siek, gaan agteruit en sterf. Eweneens: ’n Ekologie – ’n oorhoofse natuursisteem van ontvouende verhoudings tussen organismes in en met hulle omgewing – wat al hoe minder kompleks word, is aan ’t vernietig. Minder spesies, minder interafhanklike afdelings beteken doodgaan.”
Nog ’n uiters interessante voorlegging aan die sinode het gekom van Nico Booyens, jong lidmaat van Krantzkloof wat sy tyd verdeel tussen Mosselbaai en Scottburgh. Sy instansie heet The Shark Research Unit en hulle hou hulle besig met verskillende marienestudies. Vir ’n kusprovinsie soos KZN is die waterbronne van deurslaggewende belang. Met die groot skade aan waterinfrastruktuur beteken dit dat riviere se afloop die grootste gemors denkbaar teen die kus af stort.
Die NG Kerk in KZN is klein in getal en het min kapasiteit, maar wil graag die beskikbare vermoëns aanwend sodat die omgewing van hierdie mooi en groen provinsie behoue kan bly.